Skip to main content

Hanlie is aanwins vir Bergrivier

Om ‘n leefomgewing te fasiliteer waar almal met waardigheid kan floreer. Of jy betrokke raak by ‘n vrouegroep in Kayamandi, sakeleiers in Stellenbosch, die vissersgemeenskap in Laaiplek of ‘n skool in Eendekuil, almal wil hul gesinne in ‘n rustige en skoon omgewing grootmaak. Dié visie van Hanlie Linde verklap iets van haar sukses as munisipale bestuurder in die Wes-Kaap. Sy het met George April gesels.

Die verslegtende toestande van plaaslike bestuur in Suid-Afrika haal gereeld die nuus. Binne die beeldskone Bergrivier-gebied in Wes-Kaapland pak ‘n knap vrou egter die bul by die horings en sorg dat haar raad en munisipaliteit én die inwoners vorentoe kyk en bly beweeg.

Hanlie Linde is pas vir nog vyf jaar heraangestel as munisipale bestuurder van die Bergrivier Munisipalitet. Daar is goeie redes hiervoor want sy is die dryfveer agter die raad se puik prestasie om oor die afgelope agt jaar deel te wees van die top 10 munisipaliteite wat die beste presteer in Suid-Afrika. Dit beteken o.a. ‘n ongekwalifiseerde ouditmening vir die volgende opeenvolgende jare.

As die hoof van administrasie en rekenpligtige beampte van die munisipaliteit, ondersteun Hanlie die raad se strategiese visie en verseker goeie en gesonde bestuur. Die dorpe Piketberg, Velddrif en Porterville val onder die munisipaliteit se jurisduksie.

Hanlie het vandeesweek begin met haar derde termyn, nadat sy op vakansie in KwaZulu-Natal was. Sy het aan Die Waarheid vertel dat sy daar gaan uitspan het oor haar liefde vir voëls besigtig.

As die tweede oudste van vyf dogters, het Hanlie (52) aan die Hugenote Hoërskool in Wellington gematrikuleer. Sy spog met verskeie kwalifikasies, insluitend ‘n meestersgraad in besigheidsleierskap, ‘n regsgraad, ‘n honneursgraad in arbeidsreg en een in politieke wetenskap. Sy is ook ‘n gekwalifiseerde besigheids- en uitvoerende afrigter en het ‘n nagraadse Diploma in Hoë Impak Leierskap.

Hanlie het in 1997 haar loopbaan in plaaslike regering by die Stellenbosch Munisipaliteit begin, as ‘n arbeidsregspesialis. Daarna is sy bevorder tot Hoof Regsdienste en later as die Uitvoerende Direkteur: Maatskaplike Ontwikkelingsdienste.

Volgens haar is sy die trotsste op die skepping van ‘n goed funksionerende munisipaliteit, waar alle personeel en raadslede kan dien. “Om die tien kernwaardes na te kom en ‘n welvarende gemeenskap te wees. Waar almal op ’n waardige wyse wil woon, werk, leer en speel.”

Hanlie is ‘n natuurliefhebber en ywerige reisiger. Sy is mal oor bergfietsry en het die To Hell and Back Challenge al sewe keer voltooi. Nadat sy haar been tydens ‘n vlotvaartekspedisie in Uganda in 2010 gebreek het, het sy besluit op rustiger avonture. Nou besigtig sy graag voëls, stap en mis nie sommer ‘n mooi sonsondergang nie. Sy gaan kamp ook graag saam met vriende en familie.

Wanneer sy diensleweringsnavrae van die publiek ontvang, prioritiseer sy dit dadelik.

Toe Hanlie in 1997 in plaaslike regering begin werk het, was daar meer as 800 munisipaliteite in Suid-Afrika wat basiese dienste aan hulle onderskeie gemeenskappe moes verskaf. Soos skoon drinkbare water, sanitasie, paaie, vullisverwydering, stadsbeplanning, begraafplase, biblioteke, gemeenskapsale, speelparke, brandweerdienste, verkeersdienste, ens.

Deesdae is plaaslike regering ‘n meer komplekse omgewing en bied verskeie unieke uitdagings wat innoverende en kreatiewe oplossings vereis, bevestig Hanlie.

“Dit is ‘n opwindende, dog lonende veld om in te werk, en pligte moet binne die raamwerk van 144 stukke wetgewing geskied.

“Een van die hoofuitdagings tans in ons land, is dié van wantoestande. Die uitdagings en funksies groei jaarliks,” verduidelik Hanlie.

“Toe ek op Stellenbosch gewerk het, het ek gedink ek bly in ’n Utopia, dat ek nie beter kan kry nie.  Maar Piketberg se mense, skoonheid, rustigheid, gemeenskapsgevoel en gasvryheid het my weggewaai.”

Hanlie is dankbaar teenoor die Bergrivier raad vir die heraanstelling. “Hier streef ons daarna om uitstekende dienste te lewer. Ons bly leer en groei, en is passievol oor ons gemeenskap.”

  • Lesers wat meer oor Hanlie se avonture wil weet, kan haar blog volg: “Die avonture van Hanlie”.

 

Leave a Reply