Skip to main content

 

Isaac Cloete

Garies se gemeenskap moes vandeesweek die werklikheid dat hul skool afgebrand het, swaarmoedig trotseer.

Ten spyte van dié moedeloosheid sal hulle egter gedagtig aan die skool se leuse: “Werk en oorwin,” die wa deur die drif moet trek. Boonop  is tydelike klaskamers in aantog om te sorg dat leerders nie te agter met skoolwerk raak nie.

Die ouergemeenskap van Garies Hoërskool, asook die leerders en opvoeders het Maandag finaal besef dat hulle skool weg is nadat dit Saterdagoggend afgebrand het. Elf klaskamers, die administrasieblok, ablusiegeriewe en al die meublement het in die slag gebly.

‘n Gebedsessie is Maandag by die dameskoshuis gehou waar gesigte van die verslaentheid, hartseer en wanhoop vertel het. Veral vir die leerders was dit net te veel en hulle moes die trane afvee wat openlik gevloei het.

Die skoolhoof, Fagmieya Januarie, het hard probeer om hulle vars moed in te praat. Sy het kalm verwys na die moeilike pad vorentoe, en bygevoeg: “Dis nie so donker nie. Dit sal egter baie werk kos, maar ons sal dit oorwin. Net soos ons leuse aandui, sal ons werk en oorwin, om hierdie ramp die hoof te bied.”

Sy het die matrieks versoek om ondanks die gebeure hulle beste te doen, want hulle toekoms wag. Laastens het Januarie die ouers gerusgestel dat die departement van onderwys se distriks- en provinsiale kantore onderneem het om die skool ten volle by te staan.

Senior amptenare, onder leiding van die LUR van onderwys, Zolile Monakali, het die skool ook Maandag besoek. Dit was om hulle te vergewis van die omvang en skade en te bepaal hoe dit leer en onderrig sal beïnvloed.

Luidens ‘n verklaring van Geoffrey van der Merwe, woordvoeder van die departement, is 80% van die skoolkompleks verwoes. Die skoolsaal, houtwerk- en stoorkamer, asook ‘n ongebruikte ablusieblok kon gered word.

“Die departement gaan elf mobiele klaskamers beskikbaar stel. Die leerders kan dus al op 11 Oktober na die skool terugkeer. Intussen sal die 21 matrikulante tydelik by die koshuis geakkommodeer word waar hulle kan voortgaan met die proef-eksamen.”

Die oorsaak van die verwoestende brand bly onbekend. ’n Forensiese ondersoekspan van die polisie sal dié week hier opdaag om na leidrade, ens. te soek.

Intussen het die polisie die publiek versoek om ook met inligting oor die oorsaak van die brand na vore te kom.

Leave a Reply