Skip to main content

Die Boy van die Suburbs oor kuns van liedjieskryf

Liedjieboer. Legende. Daar is vele name vir hom. Anton Goosen is so deel van Suid-Afrika soos braaivleis en rugby. Jou ouma was ʼn aanhanger, en die kanse is goed dat jou kinders ook sal wees. Gerald Eloff gesels met Anton oor sy tydlose, treffende musiek en sy kleurvolle loopbaan.

Watter era van jou loopbaan lê jou na aan die hart, of beskou jy as jou mees suksesvolste?

Dit was twee eras – die eerste een in 1979, met musiek en die lirieke wat ek vir Sonja Heroldt, Carike Keuzenkamp en Laurika Rauch geskryf het, en dan die tyd van Boy van die Suburbs. Lg. het ‘n nuwe wêreld vir my oopgemaak. In die 1990s, was dit die album Danzer, waar ek saam met Lucky Dube die gelyknamige snit opgeneem het. Die Engelse Bushrock album, wat ek saam met Isaac Mtsali, Gito Baloi en Kenny Mathaba opgeneem het, lê my ook na aan die hart. Dis iets wat ek nog altyd wou doen – die vermenging van Boeremusiek en Marabi. Ek het ook gedurende daai tydperk die regie vir Koos Kombuis se album, Elke boemelaar se droom, gedoen. Ek voel tog dat al 43 jaar van my loopbaan lekker was!

In watter era van jou loopbaan was jy die gemaklikste met liriekeskryf?

Ek sou dink die eerste era – in die middel 1970s tot die vroeë 1980s. Die rede hiervoor is dat jy jou hele lewe het om uit te put en daaroor te skryf. Die land lê nog braak en ongeskrewe. Daarna word dit harder – jy skep steeds uit die verlede maar jy het reeds die voor die hand liggende goed afgehandel; van daar af kos dit baie werk. Dit geld vir lirieke én musiek.

Mense van alle groepe luister na jou musiek – rockers en popmusiekaanhangers. Beskou jy jouself as ‘n alternatiewe kunstenaar?

“Alternatief” is ‘n baie breë term – dit verduidelik nie juis die musiekgenre nie. Ek is ‘n singer-songwriter wat ‘n bietjie kitaar kan speel en ‘n paar songs geskryf het. Ek het verskeie genres aangedurf, grootliks omdat ek nie wou vashaak by een nie – byvoorbeeld by rock want dan gaan jy geklassifiseer word in daai genre. Ek het dit ontsnap deur verskeie genres te beoefen – van Boeremusiek tot Marabi, selfs ‘n klein bietjie country, alhoewel ek skrikkerig is daarvoor. Daar is twee soorte country-aanhangers – diegene wat van Willie Nelson hou en die res! Dis maar dieselfde met Boeremusiek – dis in my roots, maar ek wou nie elke keer ‘n konsertina gebruik nie, want dan word jy as ʼn Boeremusiek-kunstenaar bestempel. Ek werk so wyd as moontlik.

Hoe het die musiekbedryf verander oor die laaste 40 jaar en hoe oorleef ‘n kunstenaar nou in die digitale-era?

In die begin het ek 78s gesien kom en gaan, toe langspeelplate, toe kassette en toe CDs. Dis in ‘n mate ‘n jammerte, want boeke het dit dan oorleef. Die afwagting is daarmee heen – soos met ‘n boek waarvoor jy gewag het om dit te koop; jy ruik die boek, dan gaan lees jy hom by die huis. Dieselfde met ‘n plaat wat jy op die draaitafel gaan sit. Die een nadeel van die digitale era, is dat jy nie meer die wonderlike langspeelplaatomslae kry nie. Ek onthou Joni Mitchell se kreatiewe omslae – dit was kunswerke. Dan ook die lyste van regisseurs, musikante en ander tegnici wat betrokke by die opnames was. Dinge verander, en dan verander dit weer, maar ons het almal aangepas. Enkelsnitte is deesdae ‘n ding. Wat is die Afrikaans vir ons gaan ‘n single drop!? “Skepskop” klink net nie reg nie. Sosiale media het ‘n baie belangrike rol begin speel, ook in die Tyd van die Plaag (Covid-19) met aanlynkonserte. Dit was eintlik lekker – jy kon by die huis bly, en hoef nie die langpad aan te durf het nie. Interaksie met luisteraars is wel belangrik. Dis een ding om musiek op die radio te luister – maar vertonings sal altyd by ons bly. Jy en jou musikante het die interaksie met die gehoor broodnodig.

As jy op 76-jarige ouderdom terugkyk na jou loopbaan, sou jy iets anders wou doen?

Ek sou beter beplan het. ‘n Mens is nie vir die werk opgelei nie en die roem kom na jou toe as jy dit die minste verwag. Jy leer maar soos wat jy aangaan. Gelukkig het ek destyds vir Beeld en Huisgenoot as vryskut geskryf en so die media leer ken. In die begin laat die media jou dink jy kan op die water loop, dis seker maar iets wat na kunstenaars se koppe toe gaan. Ek onthou in Ermelo in 1979, het my tromspeler vir my gesê “Watch your head, Lad.” Ek hét toe, en van toe af was dit lekker, alhoewel dit ‘n groot aanpassing was. Fanus Rautenbach het iets belangriks gesê: ‘Ons volkie is soos paddavissies, as een uit die modderdam uitklim, help die ander hom weer terug.” Ek het dit gedurende my jare in die media ook gesien. Hulle bou ‘n ding op soos ‘n piramide, as hy mooi toe is bo, breek hulle hom weer af van bo af ondertoe. Voornemende kunstenaars moet dit besef – daar is stil, mooi dae by die see en dan is daar storms. Jy moet beide kan trotseer en verstaan.

Vir watter ander plaaslike kunstenaars het jy baie respek? Wie was lekker om mee saam te werk?

Sonja Herholdt, beslis. Sy is ‘n geweldige harde werker; ek onthou die eerste aand toe ons demo’s opgeneem het, het sy tot vieruur in die oggend gesit en werk. Sy steek nie lyf weg nie, sy help drade oprol en dra goed ná vertonings rond. Dan natuurlik Laurika Rauch sy het ‘n fenomenale stem, so dis ‘n natuurlike talent. Dan Carike Keuzenkamp, een van die vrolikste en positiefste mense wat ek ken. Ek is steeds vriende met almal en gesels nog gereeld met hulle. Mauritz Lotz, Lucky Dube – wat ‘n plesier was dit nie om saam met hom te werk nie – Lise Swart, Schalk Joubert, Charlie van Beeskraal, Karen Zoid, Jan Blohm, Gian Groen en ‘n hele rits ander. Ons is eintlik almal net een groot familie.

Dink jy die kuns van liedjieskryf, of goeie liedjies, is iets van die verlede?

Daar is steeds goeie musiek wat uitgereik word – al is daar bokkie-sokkie-stamp-stamp goeters op die mark – maar die mark is seker groot genoeg om dit ook te omarm. Van die name wat ek hierbo genoem het, reik steeds goeie musiek uit. Iemand soos die talentvolle Pietman Geldenhuys en Spoegwolf doen ook goeie werk – die toekoms lyk gesond. Die mark het ‘n manier om homself uit te sif. Kwaliteit sal altyd na bo uitstyg.

Waarvoor wil jy graag onthou word?

Ek weet regtig nie. Ek hoop dat my musiek nog lank sal voortleef. As mense dink ek was ‘n nice ou, sal dit ook seker genoeg wees.

Wat is die geheim van ‘n goeie, suksesvolle liedjie – of eerder, watse raad het jy vir nuwe liedjieskrywers?

Baie jongetjies het al kom raad vra – en dan doen hulle presies die teenoorgestelde! Dis seker maar die paadjie wat ons almal loop. As ek dan moet uitdeel – oorspronklikheid is die sleutel tot alles sukses met liedjieskryf – jy moenie klink soos iemand anders nie. Dikwels kom idees terwyl ek reis en dan neem ek dit met my foon op, en dan gaan werk ek daaraan. Dikwels moet jy dit eers wegbêre want jy gaan vashaak. Dit het gebeur met Pampoene op die dak; ek het dit vir tien jaar gebêre. Toe een oggend gedurende ontbyt by Tom’s Trading Store, sien ek die pampoene op die dak raak. Die liedjie het alles gehad behalwe ‘n koorgedeelte, tot daai oggend. Hersiening is ook belangrik – selfs die groot Leonard Cohen het vir vier jaar lank aan Halleluja gewerk. Met honderde versies, hy het toe gesny tot die paar wat vandag in die liedjie is. Bob Dylan, weer, het toe Cohen hom vra hoe lank hy gevat het om Like a Rolling Stone te skryf, gesê net 15 minute! So daai dinge gebeur ook …

Watse rol het jy gespeel in protesmusiek, verwysend na o.a. Houtstok?

Daar was verskeie ander ook. Ons moet in gedagte hou dat daar baie sensuur was in die laat 1970s – dit het mens genoop om meer subtiel te skryf, anders was die liedjies summier afgekeur. ’n Voorbeeld daarvan is Atlantis, een van my liedjies wat Laurika oor gedwonge verskuiwing opgeneem het. Mpanzaville, ook deur Laurika opgeneem, handel oor die Groot Krokodil, oftewel P.W. Botha. In 1992 het dinge verander; politiese protes het weggeval, deesdae is dit meer sosiale protes.

Wat dink jy maak Afrikaans, as taal, vir jou spesiaal?

Dis my geboortetaal. My moedertaal, die taal waarin ek liefde maak, waarin ek werk. Afrikaans dans op my tong.

Leave a Reply

error: Content is protected !!