Lumé van Schalkwyk
Op die vooraand van openbare verhore oor Eskom se aansoek om ‘n tariefverhoging van 32% vir volgende jaar, het dit duidelik geword dat die energiereguleerder Nersa min ruimte sal hê om van Eskom se voorstel af te wyk en dié skokverhoging wesenlik te beperk.
Dit kom te midde van Eskom se toenemende krisisbestuur om staande te bly met die land se verslegtende kragvoorsieningsprobleme.
Die onafhanklike ekonoom Elize Kruger het vroeër gesê só ‘n verhoging sal ‘n geweldige negatiewe impak op die ekonomie hê.
“Huishoudings is reeds onder groot druk weens die hoë koste van voedsel en brandstof, hoë belasting en stygende rentekoerse.
“‘n Verhoging soos hierdie sal die las op huishoudings verder verhoog en besteebare inkomste beperk, wat afwaartse druk op ekonomiese groei gaan plaas.”
Eskom het Donderdag die redes vir sy aansoek om ‘n verhoging vir ‘n tweede keer bygewerk sedert dit vir die eerste keer as ‘n driejaar-aansoek op 2 Junie 2021 ingedien is.
Die totale toelaatbare inkomste waarvoor die kragvoorsiener vra, het egter onveranderd gebly teenoor sy vorige opdatering in Januarie 2022, teen R351 miljard. Dit verteenwoordig steeds ‘n persentasieverhoging van 32,03% vanaf die bedrag wat Nersa vir die huidige boekjaar goedgekeur het.
Die sperdatum vir belanghebbendes om skriftelike kommentaar op die voorstel in te dien is verby, maar Nersa hou volgende week openbare verhore waar mondelinge aanbiedings aangehoor sal word.
In die afgelope paar jaar het Nersa dikwels Eskom se jaarlikse tariefverhoging aansienlik beperk.
Vir die huidige jaar het Eskom byvoorbeeld vir ‘n verhoging van 20% aansoek gedoen, maar Nersa het slegs 9,61% goedgekeur.
Een van die grootste faktore bydraend tot dié besluit is ’n aftrekking van byna R26 miljard van Eskom se R68 miljard-toelaag vir waardevermindering. Eskom het die bedrag waarvoor hy aansoek gedoen het, gebaseer op die waardasie van sy regulatoriese batebasis van R1,2 triljoen.
Dit het gevolg op ‘n herwaardasie deur onafhanklike internasionale kundiges.
Nersa het egter dié waardasie verwerp en die waarde op R550 miljard gestel.
Eskom het hierdie deel van Nersa se besluit oor sy inkomste hof toe geneem en Donderdag bekend gemaak dat die sperdatum verby is sonder dat Nersa ‘n kennisgewing ingedien het om die saak te opponeer.
Eskom se hoofbestuurder vir regulasie, Hasha Tlhotlhalemaje, het gesê Eskom verwag ‘n ooreenkoms met Nersa, wat ‘n bevel van die hof gemaak kan word. Dit beteken Nersa sal min ruimte hê om groot aanpassings in die waardeverminderingskomponent van die aansoek te maak.