Eskom se al hoe vrotter vermoë om die land deurgaans van genoegsame krag te voorsien, is nou op die vlak van ‘n onafwendbare nasionale ramp.
Dit kom nadat Eskom die naweek noodgedwonge en op kort kennisgewing fase 5 en fase 6 in werking moes stel nadat ‘n spul kragopwekkers landwyd onklaar geraak het. Sondagoggend het die beurtkragchaos tot fase 6 geëskaleer.
Dit het gevolg nadat die voorsiener ongeveer twee weke beurtkrag geïmplementeer het wat tussen fases 2 en 4 gewissel het.
Sedert die eerste kragonderbreking in 2008, het die kragreus stadigaan ‘n kragkleuter geword.
Volgens Eskom was daar 45 “ineenstortings” by kragstasies in net sewe dae.
Alhoewel Eskom se bestuur steeds ernstig kapsie maak dat daar glo geen tekens van sabotasie is nie, trek te veel rokies om nie ‘n vuur te wees of te word nie.
Daar word nou van onafhanklike kragvoorsieners verwag om die land uit die kraggemors te red.
Krag-noodreserwes by Eskom is uitgeput, dieselreserwes – wat eers later vandeesweek ter waarde van R500 miljoen aangevul sal word – is ook op en dit beteken dat ‘n nasionale ramp onafwendbaar is.
Kragstasies vou omdat dit nie behoorlik onderhou word nie, of omdat hulle verby hulle “vervaldatum” is. Saterdag was sewe stasies buite werking weens onder andere ketelbuis-lekkasies, hersirkulasiepompe wat onklaar raak, asook ander meganiese probleme.
Om olie op die vuur te gooi, wou die omstrede kragvoorsiener hê dat alle wettige kragverbruikers 32% meer vir krag betaal vanaf April 2024.
Slegs 9,61% is vir vanjaar deur Nersa, die energiereguleerder, toegestaan. Eskom wil nou nóg ‘n verdere 20,5% hê vir 2024 nadat die 9,61% goedgekeur is.
Met die kragkrisis wat toeneem, voorspel Die Waarheid donker dae vir ons land se reeds kreupel ekonomie …