Skip to main content

Sonnette Lombaard

Niemand doen styl en praal soos die Britte nie! Vandag se begrafnis van oudkoningin Elizabeth II in Londen het dit bevestig. Terwyl haar gedrapeerde kis met haar kroon en septer vir oulaas swierig-hartseer deur die strate gery het, het die derduisende mense langs die roete ‘n blommesee daarop laat neer reën – deel van onuitwisbare beelde, vergelykbaar met oudpres. JF Kennedy se staatsbegrafnis in 1963.

Elizabeth, wat op 96 gegroet het, se statige begrafnis het die wêreld vandag tot stilstand gebring en die mensdom vir ‘n wyle verenig en tot ootmoed gedwing. So indrukwekkend as wat haar sewentig somers op die Britse troon was, so was die dankbare afskeid aan een van die wêreld se bekendste en geliefste glimlagte nóg.

‘n Vaandeldraervrou wat deur skandes, skade en storms, asook reuse-veranderinge, insluitende twee wêreldoorloë, ongestoord oor 70 jaar haar volk trots saamgesnoer en voorbeeldig gelei het en mense oor grense verenig het.

Die staatsbegrafnis van Elizabeth was ‘n globale gebeurtenis wat niemand wou misloop nie; selfs geswore politieke vyande soos China en Rusland het openlik na ‘n uitnodiging gevry. Die Russe wat tans in Oekraïne moles maak, moes egter tuis bly en dit soos miljoene kykers wêreldwyd op televisie volg. En die Britte het nie teleurgestel nie en ‘n roerafskeid uitgerol wat grensloos aangegryp het, is jy nou ‘n bloubloedaanhanger, of nie.

Die begrafnis in Westminster Abbey is deur 500 leiers en verteenwoordigers van talle lande bygewoon. Die beroemde en/of berugte lede van Elizabeth se bloubloedfamilie het net soveel aandag getrek as die groot gros gesiene gaste, van adellikes van ander koningshuise tot prominente leiers en figure van oraloor.

Die langs-regerende Britse monarg nóg se begrafnis het gevolg nadat sy vir vier dae in staatsie in Westminster Hall gelê het. Dit het tot nasionale versoening gelei soos laas met Diana se dood in 1997. Britse burgers en mense van regoor die wêreld het ure en kilometers deurnag getou om hulle geliefde Lilibeth persoonlik te groet. Selfs die Britse sokker-superster David Beckham het getou. Elizabeth se agt kleinkinders het Sondag om haar kis wag gehou.

In die kerk vandag was alle oë op die Britse koningshuis, nou gelei deur Elizabeth se oudste seun, koning Charles III. Langs hom was sy vrou Camilla Parker Bowles, wat die Britte vergewe het nadat sy eens verantwoordelik gehou is vir Charles en Diana se beroemde egskeiding. Camilla was soos die res van die familie van kop tot tone in swart en is bygestaan deur haar twee kinders uit haar eerste huwelik, Laura Lopes en Tom Parker Bowles. Kosredakteur Tom is van sy Suid-Afrikaanse vrou van die Oos-Rand, moderedakteur Sara Buys, geskei. Hulle het twee kinders.

Elizabeth se dood het die sg. “Fab Four” vir die eerste keer in die openbaar herenig. Die viertal is Charles en Diana se seuns prinse William en rooikop-stouterd Harry en hul mooi donkerkop-vroue prinses Kate en Meghan Markle. Harry en Yank Meghan het die familie die rug toegekeer en woon nou in die VSA vanwaar hulle vir meestal die verkeerde redes in die nuus bly.

Kate was stylvol in swart aan troonopvolger William se sy. Sy het ingevolge koninklike protokol  ‘n hoed met ‘n rounet gedra. Saam met hulle was hul twee oudste kinders, prins George (9) en prinses Charlotte (7). Kleinboet prins Louis (4) was nie teenwoordig nie.

Die nuwe Britse premier, Liz Truss, wat Elizabeth ‘n paar dae voor haar dood in Balmoral Kasteel in Skotland besoek het, het tydens die kerkdiens ‘n voorlesing gedoen. Onder die wêreldleiers teenwoordig, was pres. Joe Biden van die VSA, en eerste ministers Justin Trudeau van Kanada en Jacinda Ardern van Nieu-Seeland. Uit Afrika is pres. Cyril Ramaphosa en  Kenia se splinternuwe pres. William Ruto opgemerk.

Die kerkdiens is gevolg deur ‘n gewyde militêre optog, met Elizabeth se kis, en die koninklike familie deur die Britse hoofstad se strate, ook verby haar hooftuiste Buckingham Paleis. Haar swart ponie Emma en twee Gorgis Sandy en Mick was deel van die laaste been na Windsor Kasteel. Na ‘n diens in die St. George’s kapel is haar kis laat sak na die kelder waar sy nou saam met haar man prins Philip, wat laas jaar gegroet het, asook haar ouers en sus, prinses Margaret, ‘n finale rusplek het.

One Comment

  • Nadia says:

    ‘n Fantastiese artikel soos gewoonlik. So lekker gelees hieraan. Wanneer ‘n joernalis vir ons die gevoelens uitwys wat ons self ervaar, op ‘n onbewustelike vlak – soos die ootmoed. Ja, hulle is ‘n ware illustrasie van styl, dalk is dit hoekom ons almal so Kroon-“struck” is. In ‘n wêreld waar sensasie koning kraai, is dit soos ‘n feë verhaal om ‘n bloubloedaanhanger te wees.

    ‘n Breedvoerige artikel wat selfs die agtergrond skets en inkleur, selfs al is jy onbewus van wat in die wêreld aangaan, vul hierdie artikel die leemtes in.

Leave a Reply