Skip to main content

 

Isaac Cloete

Tamelyn Bock (26) van Nababeep in Namakwaland is die eerste Mej. Rolstoel SA. Sy kon lente behoorlik vier met ‘n skenkingsbedrag van R50 000. Dit kom van die bekende mynmagnaat en eienaar van die MAFISA Diamantmyn, Louis Liebenberg.

Die oorhandiging het op Springbok plaasgevind. Liebenberg het vroeër onderneem om aan Bock R20 000 te skenk. Toe sy by MAFISA se kantoor opdaag, het sy uitgevind dat dit R25 000 is.

Met aanhoor van haar passievolle en roerende storie, het trane onder die belangrike gaste teenwoordig begin vloei. Die magnaat het toe besluit om die bedrag na R50 000 te vermeerder.

Bock het vertel hoe sy die afgelope jaar met vele uitdagings gesukkel het. Dit sluit in eie vervoer, toeganklikheid tot sommige geboue, maar veral finansies. Sy is in November 2021 gekroon as die eerste Mej. Rolstoel SA.

Sy is vasberade om “’n stem te wees vir ander mense met gestremdhede. Ek wil die wêreld bewus maak dat ons nie anders is nie, ondanks ons gestremdhede. Ons is net uniek”.

Sy glo verder dat sy die negatiewe stigma rondom mense met gestremdhede kan afbreek, sodat hulle meer aanvaarbaar kan wees.

Die verrigtinge is bygewoon deur die direkteure van die MAFISA-mynmaatskappy, asook ander belangrike persone in die streek, soos raadslid Amos Polori.

Polori het Bock beskryf as ‘n baie sterk vrou wat die Mej. Wêreld-kroon huis toe kan bring.

Haar verloofde, Edmund Balie, was baie dankbaar vir die onbaatsugtige seëninge. Hy sal haar noodgedwonge ondersteun in Mexico tydens die kompetisie.

Hy het gesê: “Toe ek haar ontmoet het, het ek nie ‘n rolstoel gesien nie, maar net haar gesig. Sy is ‘n egte mens en ons liefde is onvoorwaardelik.”

Bock het teen die einde ook haar trane probeer afvee. Groot was die vreugde toe die simboliese tjek aan haar oorhandig is. Met ‘n breë glimlag en groot dankbaarheid het sy later vir foto’s geposeer.

Liebenberg het belowe om haar verder te ondersteun, want sy is nou “deel van die familie”.

Die uitleef van Bock se gunstelingslagspreuk, Start unknown and end unforgettable, is nou moontlik met die ruim skenking.

Die Mej. Wêreld prestige-skouspel vind op 22 Oktober in Mexico plaas, waaraan 27 lande gaan deelneem. Die sprankelende Bock sal SA verteenwoordig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!