Skip to main content

 

Isaac Cloete

‘n Gemeenskap in Namakwaland sit in sak en as nadat hulle enigste hoërskool afgebrand het. Behalwe die geskiedenis daarmee saam wat onherroeplik uitgewis is, is ‘n paar honderd leerders se toekoms ook waarskynlik nou daarmee heen.

Die Garies Hoërskool het Saterdagoggend onverwags begin brand, het inwoners met skok vertel. En toe hulle behoorlik tot verhaal kom, was dit reeds te laat vir vinnige optrede.

Daar word tans wyd bespiegel oor die moontlike oorsaak vir dié ramp. Die vermoedens strek vanaf brandstigting, tot die werk van tikkoppe of beurtkrag.

Volgens Serena Cloete, ‘n bekende sakevrou hier, het iemand die brand teen seweuur die oggend opgemerk.

“Die persoon het gaan koerierdiens doen. Hy het opgemerk dat ‘n klaskamer naaste aan die ou hospitaal aan die binnekant in ligtelaaie was.”

Toe die dag ordentlik begin breek, het baie inwoners eers ten volle besef wat aan die gang was.

Omdat Garies nie oor ‘n brandweer en opgeleide brandweerpersoneel beskik nie, moes geskokte inwoners hulpeloos aanskou hoedat die vlamme die skool begin verswelg.

Volgens Rodney Kritzinger, speaker op Springbok, het hulle probeer help en met ‘n brandweerwa en span na Garies, sowat 114 km suid, gehaas.

Garies sit ook al vir jare met ‘n waterprobleem, maar gelukkig kon die wa met water by die skool opdaag. Dit was egter te laat en die hele skoolgebou is feitlik verwoes.

Elf klaskamers, die administratiewe blok en ablusiegeriewe, asook alle meubels en antwoordstelle is verwoes in die brand, luidens die Noord-Kaapse Departement van Onderwys.

Slegs die nabygeleë skoolsaal kon gered word, het hartseer inwoners later, en nog steeds verslae, vertel.

Volgens Benjamin Kriel moes die plaaslike munisipaliteit al lankal ‘n brandweerwa aangeskaf het. “In 2018 het iemand se huis en motor ook hier afgebrand terwyl munisipale amptenare net staan en toekyk het. Kamieskroon se ou koshuis het ook al afgebrand.”

Asof dit nie genoeg is nie, het die dorp se gesondheidsentrum ook laasweek gebrand, is intussen vasgestel.

Teen Saterdagmiddag het brandwaens en brandweerpersoneel van Vredendal in die Wes-Kaap en Aggeneys nog hard gespook om dié brand te blus. ‘n Moeilike wind het die blus van die vuur erg belemmer.

Mismoedige ouers weet nie wat hulle kinders se toekoms nou inhou nie. Chantal Jones het mismoedig gevra: “Waarheen stuur ek nou my kind?”

Die LUR vir Onderwys. Zolile Monakali, en die hoof van onderwys, Moira Marais, sou die skool Maandag besoek het om die aard en omvang van die brand te bepaal.

 

 

Leave a Reply