Skip to main content

Die Russiese mynreus Nornickel beplan om die aandelebesit van individue, insluitend sy werknemers, te verhoog tot 25%. Dit is 15% meer as die huidige 10%, het die maatskappy se grootste aandeelhouer – en Rusland se rykste man, volgens die Bloomberg Billionaires Index – bekend gemaak.

“Toe Norilsk Nickel geprivatiseer is, was ongeveer 25% van die aandele deur werknemers besit … ek wil graag historiese geregtigheid herstel en verseker 25% van Nornickel se aandele word aan die mense teruggegee, insluitend werknemers,” het Vladimir Potanin Saterdag gesê.

“Deel daarvan is om aan ons werknemers Norilsk Nickel-aandele in digitale vorm te gee. Dit sal ook die tendens in die mark ondersteun sodat mense dit koop, en dit meer bekostigbaar kan wees,” het hy in ‘n onderhoud met die nuuskantoor RBC gesê.

Nornickel is die wêreld se grootste palladium- en verfynde nikkelprodusent, wat tans sowat 80 000 mense in diens het. Potanin het gesê die aandeleverandering sal ingesluit word in die maatskappy se korporatiewe program oor tien jaar, genaamd “Digital Investor”, wat in 2023 afskop. Die bepalings waaronder Nornickel se werknemers aandele kan ontvang, word tans gefinaliseer.

Potanin se belang, Interros, besit 36% van Nornickel. Hy het vroeër vandeesweek aangekondig dat Interros tot 50% van sy Rosbank-aandele na sy liefdadigheidstigting en tot 10% na ‘n motiveringsprogram vir die bank se werknemers sal oordra.

Interros het toe gesê die maatskappy se missie is gemik op “menslike kapitalisme” om werknemers se status na begunstigdes te verander.

Leave a Reply