Skip to main content

As jy die woord ‘kriek’ vir ‘n visserman noem, dan dink hy dadelik aan ‘baber-aas’. As jy dus jou buurman sien graspolle omdolwe, of in onooglike bourommel op sy erf grou na son-onder, kan jy moontlik in die kol tref met waarna hy op soek is, veral as jy al visstokke gesien het wat vasgemaak was op sy kar se dak.

Daardie irriterende tjirp-geluid – of as jy romanties wil klink en dink: ‘aah, niks beter as ‘n vuurtjie, en die geluid van krieke in die verte nie’- word slegs deur mannetjies gemaak.

As krieke vinniger as gewoonlik tjirp, kan jy maar weet dat dit lekker warm is buite. In koue temperature tjirp hulle stadiger.

Hierdie insekte is toentertyd deur Chinese koninklikes as troeteldiere in goue hokke aangehou, maar hedendaagse burgers van daardie land sien hulle as ‘n lekkerny op ‘n spyskaart. Hulle word met allerhande speserye gegeur en in ‘n wok gekook tot bros.

Manlike krieke is nogal veglustig en sal hul maats verdedig, of selfs hul eie lewens waag, om ‘n wyfie wat sy eiers dra te beskerm.

‘n Groep krieke word ‘n orkes genoem, en daar is triljoene van hierdie omnivoriese, koudbloedige insekte regoor die wêreld.

Alhoewel die meeste van hulle bo-gronds leef, is hulle al in bome en grotte ook aangetref.

Hul leef hoofsaaklik van swamme, verrottende plante en soms eet hulle dooie of beseerde krieke.

Leave a Reply