Die Switserse ikoon met Suid-Afrikaanse wortels, Roger Federer, het sy uittrede uit internasionale tennis aangekondig. Hy het die nuus Donderdag bevestig in ‘n verklaring wat op sosiale media gepubliseer is.
Die 41-jarige Switser wat ‘n Afrikaanse ma van die Oos-Rand en Switserse pa het, is sedert Wimbledon verlede jaar buite aksie nadat hy voortslepende beserings probeer oorkom het.
Federer het gesê volgende week se Laver Cup in Londen sal sy laaste ATP-byeenkoms wees.
Met ‘n indrukwekkende 20 Grand Slam-oorwinnings, is Federer die eerste van die “Groot Drie” (saam met Rafael Nadal en Novak Djokovic) om uit te tree.
Met die aankondiging van die einde van ‘n roemryke loopbaan van 24 jaar waar hy aan meer as 1 500 wedstryde deelgeneem het, het Federer gesê dat hy sy “liggaam se vermoëns en beperkings” ken en nou moet “erken wanneer dit tyd is om te gaan”.
“Dit is ’n bittersoet besluit, want ek sal alles mis wat die internasionale toere my gebied het,” het Federer gebieg.
“Maar terselfdertyd is daar soveel om te vier. Ek beskou myself as een van die mees gelukkige mense op aarde.”
Federer verlaat die sport terwyl hy die rekord hou vir die meeste opeenvolgende weke in die nommer een-posisie en as die oudste speler nog om die topplek te beklee op 36 jaar oud in 2018.
Voordat Nadal (22 Grand Slams) en Djokovic (21) hom verbygesteek het, was Federer ook tennis se voorste mans Grand Slam-wenner met ‘n indrukwekkende ses Australiese Ope-titels, een Franse Ope-kroon, vyf Amerikaanse Ope-oorwinnings en ‘n rekord van agt Wimbledon-titels.
Daarbenewens het Federer ‘n silwermedalje in die enkelspel by die Olimpiese Spele in Londen in 2012 losgeslaan, nadat hy vier jaar tevore goud in Beijing in die mansdubbelspel gewen het.
Die Laver Cup-byeenkoms, wat volgende week Federer se swanesang sal wees, sal hom in aksie sien vir Team Europe teen ‘n span bekend as Team World-mededingers. Dit sal strek oor drie dae, van 23 tot 25 September, by The O2 in die Britse hoofstad.