Skip to main content

 

George April

Daar was Maandag groot verligting toe sekuriteitsmaatskappye en die vakbonde wat die werkers verteenwoordig, ‘n dreigende staking gekeer het nadat ‘n ooreenkoms oor loonverhogings bereik is.

Daarmee is ‘n beoogde landwye staking van veiligheidswagte aanstaande week afgeweer.

Die eerste vergadering tussen die partye op 1 September het niks opgelewer nie, en alles het afgehang van vandeesweek se samesprekinge. Indien diè onderhandelings daartydens ook sou misluk, was ‘n landwye staking op 25 September onafwendbaar.

Christopher Jones, ‘n veiligheidswag van Kraaifontein in die Kaap, is verlig oor die beplande staking afgelas kon word.

Jones was in 2006 se landwye sekuriteitstaking een van die nagenoeg 150 wagte wat aan diens beseer is. Meer as 60 mense het ook hul lewens in dié staking verloor.

“Behalwe om byna ook my lewe te verloor, het ek ook toe gou onbillik my werk verloor,” het hy vertel.

“Daardie staking het my hele lewe omver gegooi, want ek het deur hel gegaan. Destyds het ek vir Thorburn Sekuriteitsmaatskappy in Nuweland gewerk.

“Ons was die agtermiddag in Bellville afgelaai, vanwaar ek agterna ‘n trein huis toe sou kry. Alhoewel ek private klere aangehad het, moes mense gesien het waar ek uit ‘n maatskappyvoertuig geklim het.

“Ek het op die stasie in ‘n trein gesit.Tien swartmans met knopkierries het op my afgestorm en my uit die trein geruk.

“Ek het terug geslaan en twee gebliksem, maar die oormag was te groot.

“My kake was op drie plekke gebreek, en het onder by my gorrel gehang. Ook my ribbes is gebreek, en ek het meer as 100 steke in my mond gehad. ‘n Plaat in my regterkant, en vyf skroewe in my linkerkant was nodig. Ek het nog steeds een skroef in my mond, wat nie wil uitval nie.

“Dit het boonop als vlak voor die polisie op die toneel gebeur, maar nie een het ‘n beweging gemaak om iets te doen nie.

“Ek was eers in Mitchell’s Plein se hospitaal opgeneem, waarna ek oorgeplaas is na Groote Schuur. Terwyl ek in die hospital was, is ek afgedank omdat ek nie by die werk kon wees nie.

“Vir my pyn en leiding het ek nie ‘n sent van daardie maatskappy gekry nie.

“Die staking wat nou afgelas is, is dus uiteraard vir baie van ons ‘n groot verligting,” het Jones benadruk.

Ingevolge die ooreenkomste oor salarisaanpassings tussen die vakbonde en maatskappye sal sekuriteitswagte vanaf Maart 2023, ‘n 13% verhoging kry. Die jaar daarna volg 6.5 % en dan vir die daaropvolgende twee jaar is ‘n 7.5% verhoging toegestaan.

Die ooreenkomste is by die Bedingingsraad se kantoor in Midrand onderteken.

Leave a Reply