Skip to main content

 

George April

Die gemeenskap van Hopefield is in rou gedompel, nadat twee inwoners kort ná mekaar wreed hul lewens verloor het.

Eers is ‘n jongman Sondagmiddag op die kruising van Protea- en Plutostraat wreed met ‘n skerp voorwerp vermoor. Na bewering was daar die Saterdagaand ‘n stryery tussen vriende.

Die oorledene was nie daar teenwoordig nie, maar glo bevriend met van die vriende wat wel die aand stry gekry het.

In die tweede voorval Maandagaand omstreeks sesuur is die 59-jarige Jacky Lewis vlak voor die Anglikaanse All Saints kerk doodgery.

Die Waarheid is oorval deur inwoners wat hulle skok uitgespreek het oor die twee voorvalle.

“Jacky het nie verdien om so wreed aan sy dood te kom nie. Hy het niemand gepla nie, net altyd gelag, en ‘n goeie woord vir enigeen gehad,” het sy suster, Magdalena Lewis, gesê.

“Ek was tuis toe ‘n vrou my kom roep en sê dat Jacky raakgery is.

”Toe ek op die toneel kom, was hy reeds dood; dit was nie ‘n mooi gesig nie. ‘n Vriend wat alles gesien het, het die volgende dag kom vertel wat gebeur het.

“Die bestuurder het op ‘n hoë spoed oor die stopstraat gejaag, terwyl Jacky besig was om die pad te kruis.

“As hy by die stopstraat gestop het, sou Jacky lankal daar weggewees het. Jackie was byna oor die middellyn toe hy getref word, en met die slag se impak het hy op die enjinkap beland.

“Die voertuig het remme aangeslaan en ‘n randsteen getref, toe het Jacky aan die voorkant afgeval en voor die motor beland.

“Die bestuurder het egter aangery, eers bo-oor Jacky, en toe is sy liggaam agterna gesleep, omdat dit aan ‘n lig van die motor vasgehaak het. Toe Jacky loskom, het die bestuurder aangery sonder om te stop.

“Om te dink Jacky sal volgende maand sy 60ste verjaarsdag gevier het,” het die hartseer Magdalena gesê.

“Die forensiese mense wat op die toneel was, het gesê Jacky is sowat 9,3m ver gesleep.”

Hopefield se polisie het albei die voorvalle bevestig.

Volgens hulle word ‘n moordsaak ondersoek, nadat ‘n man met ‘n skerp voorwerp aangerand is. ‘n Man in sy middel twintigs is intussen hieroor in hegtenis geneem en aangekla van moord.

Die polisie ondersoek ook ‘n saak van strafbare manslag, nadat ‘n man op die dorp doodgery is. Die motorbestuurder het weggery van die toneel, maar hom later aan die polisie oorgegee, is bevestig.

Leave a Reply