Skip to main content

 

Dino se kort armpies hou ons aan die raai …

Die arme Tyrannosourus Rex. Met sy kort armpies is hy deel van grappies sedert sy fossiel in 1902 in Montana in die VSA ontdek is. Wetenskaplikes krap al sedert doerietyd kop oor die funksie van dié pikante ledemate. Boonop beweer ʼn nuwe studie dat die spesie nie die enigste dinosourus is wat klein armpies gehad het nie – nuwe navorsing toon daar is ‘n verband tussen dié roofdiere en ander met klein armpies en groot kopbene. Gerald Eloff reis in die prehistoriese tyd terug om na redes te delf.

Die Tyrannosourus Rex word wyd beskou as een van die vreesaanjaendste diere wat al ooit op die planeet geleef het – met ʼn gemiddelde gewig van ses ton, en ʼn bek wat 500 pond vleis van ʼn ander dier kan afskeur. En elke navorser wat hom al bestudeer het, het ‘n opinie oor die funksie van sy, wel, kort arms.

Kort maar kragtig

Steven Stanley, ʼn paleontoloog aan die Universiteit van Hawaii in Manoa, beweer dat T. Rex sy arms gebruik het om vleis vanaf sy prooi te skeur. Sy arms, wat ongeveer drie voet lank was, het halfmaanvormige kloue, wat hy gebruik het om noodlottige wonde aan sy prooi toe te dien. Die kort arms was dan heel effektief vir snybewegings, aangesien hy so ʼn groot kop gehad het. Die sterk voorarms en groot kake, indien hy op die prooi se rug was of reeds in sy kake, kon dan een meter lange snye van ʼn paar sentimeter diep, in ʼn paar sekondes toedien. Hy kon dié aksie herhaaldelik en vinnig na mekaar uitvoer, beweer Stanley.

In die verlede was die T.Rex se armpies as bloot ʼn terugslag in die dinosourus se evolusie beskou, soos verstandtande by mense of voëls wat nie kan vlieg nie. Daar is egter verskeie faktore wat Stanley laat glo dat dié preshistories dier se arms wel tog ʼn doel gedien het.

Benewens die praktiese funksies van die T. Rex se armlengte, verduidelik Stanley, dat die T. Rex se kop ʼn tipe van ʼn ongewone bal- en socketgewrig gehad het, wat toegelaat het dat die arms vrylik kon beweeg. Hy glo ook dat die kort arms dieselfde skopkrag gehad het as die van ʼn sesvoet-lange volgroeide man.

 

Eerder vir kafoefel as veg

Ander wetenskaplikes stem egter nie saam nie. Dr. Jakob Vinther, ʼn paleobioloog aan die Universiteit van Bristol, het aan National Geographic vertel dat die arms eerder vir voortplanting gebruik is as om prooi aan te val.

Thomas Holtz, ʼn tyrannosaurus-kenner aan die Universiteit van Maryland, College Park, stem wel dat die kort arms ʼn gevaarlike funksie kon verrig het, maar meen dat die lengte en die posisie daarvan sou veroorsaak dat die T. Rex basies sy bors teen die kant van die prooi moes stoot om iets reg te kry. Hy glo dat die dier eerder sy kragtige kake sou gebruik het pleks van sy arms.

Nog ʼn Dino met klein armpies …

Navorsers het onlangs die oorskot van Meraxes Gigas gevind, ʼn massiewe karnivoriese dinosourus met klein armpies soortgelyk aan diė van die Tyrannosourus Rex. Beide die spesies het miljoene jare uitmekaar geleef en is nie naastenby verwant nie. Hulle kort armpies het onafhanklik ontwikkel, wat daarop dui dat dit tog ʼn belangrike funksie moes gehad het.

Hulle is egter nie die enigste karnivore met klein armpies en ‘n massiewe lyf nie – baie theropods (tweevoetige karnivoriese dinosourusse), maak deel uit van dié groep diere. Voorbeelde hiervan is die Carnotaurus, wie se naam “vleisetende bul” beteken. Carnotaurus is ʼn lid van die Abelisaurid-familie, wat net soos die T. Rex, ʼn groep theropods met klein armpies is. Beide groepe het gedurende die Cretaceous-periode geleef, ongeveer 66 miljoen tot 68 miljoen jaar gelede.

Navorsers kan nou ʼn nuwe groep hierby byvoeg. In ʼn artikel in Current Biology deur die navorser Juan Canale van Argentinië, gesels hy oor die ontdekking van ʼn massiewe karnivoriese dinosourus, Meraxes Gigas, in sy tuisland.

Meraxes is deel van die Carcharodontosauridae, ʼn familie van dominante roofdiere wat op die meeste kontinente in die vroeë Cretaceous-tydperk, 100 miljoen tot 145 miljoen jaar gelede, voorgekom het – en dis lank voor die T. Rex geleef het. Soos die T. Rex en Carnotaurus, lyk Meraxes se kort arms uit plek uit met sy groot liggaam.

Die ontdekking dui daarop dat kort arms onafhanklik in verskillende groepe dinosourusse ontwikkel het. Wetenskaplikes stamp steeds koppe oor die funksie van die kort arms – maar omdat hulle oor verskeie tydperke van evolusie voorgekom het, is daar genoeg bewyse dat dit tog ʼn doel moes gedien het.

Die draak word opgegrawe

In 2012, gedurende die eerste dag van opgrawings in Patagonië, het wetenskaplikes die eerste dele van Meraxes ontdek. Toe het hulle vir ʼn dekade lank die res opgegrawe en die spesie geanaliseer. Omdat dit die mees volledige carcharodontosaurid skelet is wat al ooit gevind is, kon hulle ʼn baie volledige beskrywing van die dinosourus se anatomie gee.

Dit was egter nogeens die goed-gepreserveerde arms wat uitgestaan het. Die arms is ongeveer die helfte van die lengte van die dinosourus se femur.

Meraxes is die eerste dinosourus van sy soort wat met gepreserveerde arms gevind is, en die eienskap dui daarop dat die klein arms algemeen was onder Carcharodontosaurids.

Meraxes en T. Rex is nie verwant nie. Meraxes het uitgesterf ten minste 20 miljoen jaar voor T.Rex. Hulle kort armpies is ʼn voorbeeld van konvergensie – wat dui op die afhanklike evolusie van soortgelyke kenmerke in onverwante geslagte. Konvergente-evolusie gebeur gewoonlik wanneer veraf-verwante groepe diere met dieselfde biologiese of ekologiese uitdagings te doen het. ’n Voorbeeld hiervan is die ontwikkeling van vlerke, wat onafhanklik in voëls, vlermuise en insekte ontwikkel het.

So, hoekom kort armpies?

Heelwat hipoteses deur wetenskaplikes bestaan dus hieroor. Sommige glo dat die dier dit nie nodig gehad het nie, en het mettertyd opgehou om hulpbronne vir groei en ontwikkeling af te staan.

Ander navorsers beweer dat die dier die armpies gebruik het om maats gedurende voortplanting naby te hou, of om hulle te help opstaan nadat hulle geval het. Ander weer, glo dat die arms mettertyd gekrimp het, sodat hulle nie per ongeluk afgebyt word tydens ʼn vreetsessie nie, wanneer hulle vleis van ʼn karkas afgeskeur het. Wat ons wel weet, is dat dit nie vir vreet gebruik was nie, want die arms sou nie by die bek kon uitkom nie!

Canala het ná die navorsing van die Meraxes tot ʼn vierde gevolgtrekking gekom – die klein arms is te danke aan massiewe skedels. Die massiewe skedel word die primêre bron om prooi te vang of te gryp – die arms word dan minder belangrik. Die arms word kleiner, terwyl die skedel die meeste werk doen en neem dan al die predatoriese funksies oor.

Omdat navorsers nooit die gedrag van die T.Rex self in lewende lywe sal kan waarneem nie, duur die misterie voort en sal dit ons verbeeldings steeds op loop sit (en ons lagspiere bly prikkel).

Vyf vinnige feite oor die T. Rex

* Die naam Tyrannosourus Rex kom van die Griekse en Latynse woorde wat “Tyrant Lizard King” beteken.

* Die T. Rex se brein was twee keer groter as die ander karnivore van daai tyd.

* Wetenskaplikes het geglo hulle kon tot 20/km uur hardloop.

* Daar is al 20 amper volledige skelette gevind – die volledigste een, met die by naam “Sue”, is in Suid Dakota opgegrawe en verkoop aan ʼn museum in Chicago vir 5 miljoen dollar.

* T Rex het die grootste tande gehad van al die dinosourusse wat nog gevind is – 30 sentimeter lank.

 

 

 

Leave a Reply