Skip to main content

Suid-Afrikaners wat ingevoerde bande van China koop, sal 38,8% meer betaal vir die volgende ses maande nadat die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika (ITAC) uitspraak gelewer het oor ‘n anti-stortingsaansoek deur bandvervaardigers.

Die nuwe heffing is bykomend tot bestaande invoerbelasting van tussen 25% en 30%, met bandinvoerders wat nou bepaal dit sal algehele heffings op bande tot naby die 70%-kerf opstoot.

Die SA Bandevervaardigerskonferensie, wat Goodyear, Sumitomo, Bridgestone en Continental verteenwoordig, het die ITAC-besluit verwelkom nadat hulle verlede jaar ‘n teenstortingsaansoek ingedien het.

Woordvoerder, Nduduzo Chala, sê dit is ‘n goeie uitkoms vir hulle, aangesien hulle aansoek nie oor verhoging van bandpryse gegaan het nie, maar oor gelykmaking van handel.

Hy sê vir hulle is dit ‘n goeie resultaat aangesien dit die plaaslike bedryf en produksie van bande in die land sal beskerm.

Intussen sê die SA Bandeinvoerdersvereniging (SATIA) daar is beslis geen liefde vir bandinvoerders met hierdie besluit van die regering nie.

Voorsitter, Charl de Villiers, sê ingevolge die besluit sal taxi-operateurs 23% meer vir bande betaal, terwyl vragmotor- en logistieke verskaffers 22% meer sal betaal en vir passasiersmotors sal die uitgawes tussen 21 en 25% meer wees.

Hy het ‘n beroep op die regering gedoen om die besluit om te keer en gesê die impak sal verwoestend wees.

“Ons verwag dat pryse sal styg en ons het reeds gesien hoe maatskappye prysverhogings aankondig vanaf verlede week Donderdag toe dit aangekondig is. Sommige maatskappye se pryse styg met 20%, en ander selfs meer,” het hy gesê.

De Villiers sê hulle is baie bekommerd oor die impak wat dit op inflasie sal hê.

Die tariefbelasting is slegs van toepassing op ingevoerde bande uit China en nie uit Korea of ​​Japan nie.

 

 

 

Leave a Reply