Skip to main content

Lumé van Schalkwyk

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Regulerende Owerheid (SAHPRA) het ‘n tweede direkte verband tussen die dood van ‘n persoon wat die Johnson en Johnson-entstof teen die Covid-19-virus geneem het, bevestig.

Soos met die eerste geval wat verlede maand aangekondig is, het die tweede Suid-Afrikaner s’n ook saamgeloop met die seldsame neurologiese afwyking Guillain-Barre-sindroom (GBS).

SAHPRA sê die bepaling van die oorsaak van die aangemelde geval is deur die Nasionale Immuniseringsveiligheidsdeskundigekomitee (NISEC) uitgevoer. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se metodologie is gebruik.

Dis toe geklassifiseer as ‘n entstofprodukverwante gebeurtenis na ondersoeke wat gedoen is en die oorsaak bepaal is.

Die gebeure wat by die entstofontvanger aangemeld is, was in ooreenstemming met die gevaldefinisie van GBS en geen ander waarskynlike oorsaak van GBS is daartydens geïdentifiseer nie.

Wat is GBS?

GBS is ‘n baie seldsame maar ernstige nadelige gebeurtenis wat geassosieer word met die toediening van verskeie entstowwe en ander medisyne en kan ook veroorsaak word deur infeksies soos SARS-CoV-2.

GBS is ‘n seldsame toestand wat die liggaam se immuunstelsel beïnvloed. Simptome van GBS kan wissel van lig tot ernstig.

Simptome sluit in spierswakheid, spierpyn, gevoelloosheid en tinteling en in uiterste gevalle kan dit verlamming, asemhalingsprobleme en abnormale bloeddruk of hartklop veroorsaak.

SAHPRA het nogeens ‘n beroep op die publiek gedoen om enige vermoedelike nadelige gebeurtenisse na die gebruik van alle medisyne en entstowwe, aan te meld.

 

 

Leave a Reply