Skip to main content

 

Moenie skaatsplankry vlak skat nie, al is dit lank geassosieer met rebelse tieners, Tony Hawk en die sogenaamde bubblegum punk van die vroeë 2000s. Dit wou voorkom of diė gier die laaste dekade momentum verloor het, maar ’n plaaslike organisasie is besig om nuwe lewe in die sportsoort te blaas en terselfdertyd minderbevoorregte kinders te bemagtig. Gert Basson het gaan ondersoek instel.

Die nie-winsgewende organisasie Skatistan in Doornfontein, Johannesburg, skep ‘n veilige heenkome vir behoeftige kinders van die omgewing, deur hulle die kuns van skaatsplankry te leer wat dan selfvertroue bou en help hulle ook met huiswerk.

Die 16-jarige Siyethemba Matshalilanga is een van dié organisasie se produkte. “Ek is al sedert 2014 hier,” vertel Siyethemba.

“Ek kon glad nie skaatsplank nie. Ek bly hier naby en was verveeld gewees en het toe gehoor van my vriende wat by Skatistan aangesluit het.

“Behalwe dat ek ’n nuwe vaardigheid aangeleer het en iets doen wat ek geniet, word ek ook hier gehelp met my huiswerk en skooltake. En ek het hier toegang tot ’n rekenaar en ’n internet. Iets wat ek nie by die huis het nie.

 “My punte het baie verbeter vandat ek hier aangesluit het.”

Siyethemba is een van ’n paar honderd kinders wat Skatistan as ’n veilige heenkome sien en waar hulle met hartelus saam met hulle maats hul lywe ala Tony Hawk kan hou.

Skatistan vind nogal sy oorsprong in die oorloggeteisterde Afghanistan.

Die Australiër, Oliver Percovich, het in 2007 met drie skaatsplanke na dié land gereis. Hy het sy skaatsplanke aan ’n paar kinders geleen en gou besef wat hierdie sport aan die geestesgesonheid van die kinders doen.

In 2009 het hy die nie-winsgewende organisasie gestig en het hulle in Afghanistan oor die 120 kinders leer skaatsplank ry.

Sedertdien is daar twee skole in Afghanistan gestig en een in Kambodja. Die skool in Johannesburg is amptelik in 2016 geopen en die legendariese Tony Hawk was hier om die openingseremonie by te woon.

“Daar is baie van ons kinders wat uit arm en gebroke huishoudings kom. Hierdie is ’n spasie waar hulle kan ontwikkel, belangrike lewenslesse kan leer en boonop pret kan hê,” sê Mbali Mthethwa, een van die voogde by Skatistan.

Die skool is vyf dae ’n week oop en al kom ry kinders hier skaatsplank, word ook gefokus op huiswerk, en kry hulle ’n warm maaltyd en leer ander vaardighede aan soos om met rekenaars te werk.

“Hier is tans oor die 900 kinders wat op ’n maandelikse basis die skool besoek en interessant genoeg is sowat 40% van hulle meisies.

“Ons het dae waar ons net meisies leer om te skaatsplank. Dis juis om ook vir hulle ’n veilige spasie te gee om te leer en te ontwikkel.

“Ons wil hê die meisies moet bemagtig voel en nie minderwaardig teenoor die seuns wat skaatsplankry nie.”

Die skool neem kinders in van die ouderdom van vyf tot 18 jaar en daar is verskeie programme waarby ingeskakel kan word.

Die organisasie skakel ook in met die skoolkurrikulum en leer die kinders van biologie tot wiskunde.

“Ons het tutors hier wat enigiets van wetenskap tot Afrikaans en Engels vir die kinders aanbied. Dan het hulle ook ’n huiswerksentrum waar die kinders kan aanklop vir hulp met huiswerk.

“Baie van die kinders kom uit arm huishoudings en het nie toegang tot data of ’n rekenaar nie. Baie van hulle sit alleen by die huis terwyl hul ouers werk en daar is geen volwassene om hulle te help met die huiswerk nie.”

Sy sê afgesien van skaatsplankry wat ’n trekpleister vir die skool is, is die doel van hulle program om van die kinders kritiese denkers te maak.

“Die skoolstelsel faal baie keer die kinders. Ons probeer dus ook om ’n vangnet vir hulle te wees.”

Die mentors by Skatistan staan die kinders by, gee vir hulle leiding en van die kinders skakel dan self as jeugwerkers by die organisasie in.

Die 20-jarige Michael Nduwa is een van die kinders wat nou as jeugwerker optree.

“Hierdie is ’n veilige spasie waar elke kind hom- of haarself moet kan uitdruk en waar hulle selfvertroue leer.

“Dit is een van die belangrikste dinge wat ek geleer het. Om myself en ander lief te hê.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!