Skip to main content

George April

Terwyl vakbonde wat landwyd sekuriteitwerkers verteenwoordig dreig met ‘n nasionale staking, sukkel tientalle werkers in die Kaap al maande lank om betalings van hul werkgewer te kry.

Die Waarheid het ondersoek ingestel nadat ‘n werker die media gekontak het met die hoop dat iets positief sal gebeur en hulle hul salaris sal kry. Moedelose werknemers van ‘n Kaape sekuriteitsfirma het vanaf Saterdag die media oorval oor hul werkgewer wat glo versuim om hulle te betaal.  

Benjamin Pietersen van Kingdom Protection Security het toe ook self die media gekontak nadat sy werknemers se ongelukkigheid uitgelek het. Hoewel hy wou verduidelik, het Die Waarheid gevra dat hy liewer op die vrae in ‘n e-pos moet reageer. 

Volgens die ongelukkige sekuriteitswerkers het Kingdom Protection kontrakte om plase in die Boland, asook skole in die Kaapse Skiereiland, veilig te hou.

“Elke maand word nuwe werkers aangestel, omdat manne wegbly wat ook nie betaal is nie. Pietersen het net elke keer ‘n beter verskoning. Intussen moet ons gesinne swaarkry, terwyl ons wel gewerk het,” het een werker uitgevaar.

Volgens hom beweer Pietersen dat die besigheid by wie hy ‘n kontrak het, laat betaal. 

Die Waarheid het toe dié bestuurder gekontak – hy is verantwoordelik vir die aanstel van veiligheidsmaatskappye om die plase in die Boland-streek veilig te hou.

Die man, wat anoniem wil bly, was woedend, en het gesê: ”Dit is nou die laaste strooi.

“Ek het al hoeveel keer vir Pietersen gesê dat ek nie verantwoording kan vat omdat hy nie sy mense wil betaal nie. Ek betaal Pietersen stiptelik elke maand, hy moet dan net sy werkers betaal.”

Diė man wou nie sy naam of die plase se name genoem hê nie, ”omdat dit kliënte sal ontstel”.

Hy het ook gesê dat hy beslis die einde van die maand ‘n ander sekuriteitsmaatskappy gaan aanstel.

Die bestuurder het daarna die bewyse van sy betalings, asook WhatsApp-boodskappe aan Die Waarheid gestuur. Daarin kla die werkers by hom omdat hulle nog nie betaal is nie.

Die Waarheid het een van die werkers, net bekend as Colin, geskakel, wat bevestig het dat Pietersen vir hom geld skuld.

“Ek bly in Delft, en daai jong skuld my R3 850 nadat ek vir Februariemaand by hom gewerk het. Ek het by een van die skole in Delft diens gedoen,” het Colin vertel.

Pietersen het later deur sy regsverteenwoordiger Die Waarheid per brief in kennis gestel dat hy glo binne die volgende twee dae op medianavrae sal reageer.

Leave a Reply