Skip to main content

Die towenaars van toeka: Nooit en vir ewig (4)

Cressida Cowell

(Vertaal deur Kobus Geldenhuys)

Die Engelse roos Cressida Cowell is een van die wêreld se topverkopers van kinderboeke en haar How to Train your Dragon-reeks bly grensloos gewild en is al in talle tale vertaal. Ook in Afrikaans. Hierdie een is die nuutste vertaling in Afrikaans.

Cowell is ook die illustreerder van die blitsverkoperreeks How to Train your Dragon (oftewel Hoe om jou draak te tem), wat nou ook ’n bekroonde Dream Works-filmreeks is. Daar word ook ’n reeks op Netflix en CBBC vertoon.

Haar nuutste Towenaars van Toeka is weereens ’n topverkoper. Dis geïnspireer deur die landskap in die omgewing van Sussex, waar Cressida se ouma grootgeword het. Cressida woon in Londen saam met haar man, drie kinders en ’n hond genaamd Pigeon.

In die nuuste aflewering van die kinderboekreeks gemik op agtjariges en ouer bekom Xar en Wens die bestanddele vir die doepa om van hekse ontslae te raak gekry. Nou roep die towerkoning hulle na die Meer van die Verlorenes. Maar hulle moet die doepa eers in die beker van tweede kanse aanmaak.

Xar is ’n towenaarseun wat deur ’n gevaarlike heksevloek beheer word. Wens is weer ’n krygermeisie met sterk towerkrag.

Kan hulle die honger Draakwurmmonster verslaan en met die beker ontsnap? En sal die doepa se towerspreuk sterk genoeg wees om die Vloek van die Woeste Woud te verbreek … of sal die hekse vir ewig regeer?

Die vertaler Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboekvertalings van soortgelyke top-outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang, juis vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat, en in 2018 vir M.G. Leonard se Kewerknaap.

In 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het. Hy spog ook met Artes- en Safta-toekennings, en verskeie benoemings vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling.

 Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir geliefde Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater, Binnelanders en Suidooster.

Leave a Reply