Skip to main content

George April

“Dis baie duidelik dat Saldanhabaai Munisipaliteit se DA-raadslede spesiale behandeling ontvang, terwyl die mense wat vir hulle gestem het, nie ernstig opgeneem word nie.”

Diė aantyging is gemaak deur ‘n omgekrapte inwoner van Westfork Park, ‘n kleinhoewe buitekant Hopefield. Die man het heftig gereageer nadat Die Waarheid navrae gedoen het oor beweringe dat Hopefield se wyksraadslid haar mag misbruik.

Miranda Schrader, raadslid vir Wyk 7 op Hopefield, wat Westford Park en Koperfontein insluit, het volgens ontstoke inwoners, onlangs haar woning op Koperfontein verkoop. Saam met die verkoopstransaksie, het die nuwe eienaar sommer ‘n nuwe grondpad ekstra gekry.

Inwoners van Westfork Park, met wie die media gesels het, meen dat sy haar mag misbruik as raadslid van Saldanhabaai Munisipaliteit.”

“Ons bly hier en moet vir dienste betaal, maar kry absoluut geen dienste van die munisipaliteit nie.

 “Ons moet ons eie vullis verwyder, en kyk hoe lyk ons paaie, dis mos nie reg nie,” het ‘n vrou verder uitgevaar.

‘n Inwoner van Koperfontein stem saam met die mense van Westfork Park. “Dis net te toevallig dat ‘n pad nou geskraap word, terwyl daar voorheen reeds ‘n pad was.

“Meer as 20 jaar gelede was daar ‘n pad, maar die vorige mense het dit toegekamp en tuine gemaak op diė stuk grond. Die mense het dus wel paaie gehad, wat nie soos ‘n hoofpad vir almal saam gedien het nie.

“Nou skielik nadat die huidige raadslid haar huis daar verkoop het, moet ‘n nuwe pad daarmee saam kom?

“En ek stem saam met Westfort Park se mense: munisipale dienste op Koperfontein hèt begin toe Miranda vir die eerste keer raadslid geword het. Voor dit het ook die kleinhoewe-eienaars daar hulle eie vullis verwyder en moes ook ander munisipale dienste self verrig,” het die Koperfontein-inwoner vertel.

Uit vrees vir viktimisasie, wou niemand met wie Die Waarheid gepraat het, hul name genoem hê nie.  

Die Waarheid het onlangs berig oor Marean en Rose-Ann Johnson in Louwville, Vredenburg, wat ‘n R10 000 boete ontvang het vir onwettige strukture in hul erf.

Alhoewel hulle toe wel hul Wendyhuise afgebreek het, gaan die susters nou hof toe, anders moet hulle die R10 000 opdok. Dít terwyl hulle buurvrou, Olwene Daniels, die DA-speaker, glo verskeie onwettige strukture in haar erf het.

Heinrich Mettler, munisipale bestuurder van Saldanhabaai Munisipaliteit, se kommentaar en boodskap was bondig. “Koperfontein-kleinhoewes vorm deel van die Saldanhabaai munisipale gebied, wat spesifiek gediens moet word in terme van die instandhouding of gradering van grondpaaie.”

Leave a Reply