Skip to main content

 Corlia Kruger

Die ontploffing van ’n kragboks in ’n Akasia-woonbuurt in Pretoria se noorde het nie net inwoners behoorlik die skrik op die lyf gejaag nie, maar hulle boonop sonder elektrisiteit gelaat. 

’n Kragboks op die hoek van Stasie- en Mopaniestraat in Rosslyn, naby die Dikolobeng informele nedersetting, het omstreeks 13:30 Vrydagmiddag ontplof. 

Volgens ingeligte bronne het die kragboks ontplof as gevolg van onwettige elektrisiteitskoppelings, wat ‘n reuse-kopseer vir die Tswane Metroraad bly. 

Wykraadslid Petrus Malope het aan Die Waarheid Media gesê dat hy bewus is van diė onwettige koppelings.

“Die stadsraad is in kennis gestel. Voorsorgmaatreëls sal getref word om toekomstige probleme met onwettige kragkoppelings te verhoed,” het Malope bygevoeg. 

’n Inwoner in die omgewing blameer die nabye informele nedersetting vir die onwettige kragkoppeling, wat die ontploffing veroorsaak het. 

“Hulle (die inwoners van die informele nedersetting) floreer en gebruik gesteelde krag om hulle ligte aan te hou,” beweer dié inwoner wat verkies om anoniem te bly. 

In Julie vanjaar het die Tshwane Metroraad bekend gemaak dat die versuim van baie van die stad se inwoners om munisipale rekeninge te betaal, gelei het tot skuld van R17 miljard in agterstallige elektrisiteitsrekeninge – ’n groot gedeelte daarvan is die skuld van informele nedersettings. 

Township-inwoners in die stad se sewe streke skuld Tshwane se metro tans na raming gesamentlik ‘n allemintige R7,3 miljard. Onwettige kragkoppelings bly die grootste probleem in al sewe streke. 

In Julie het die metroraad 22 onwettige koppelings verwyder; 11 was koppelings na huise en 11 na sakeondernemings. Boetes van R12 miljoen is hiervoor opgelê. 

Leave a Reply