Skip to main content

 

Die parlement sê hy het kennis geneem van die Wes-Kaapse hooggeregshof se belangrike uitspraak Vrydag dat president Cyril Ramaphosa se skorsing van die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, ongeldig was.

Mkhwebane het die hooggeregshof in Junie genader om haar skorsing uit die amp te betwis. Dit is hangend die uitslag van die parlementêre proses om haar geskiktheid vir diė amp te bepaal.

Haar skorsing het gekom nadat sy aan Ramaphosa ’n lys vrae gestuur het. Dit handel oor die diefstal van buitelandse valuta by sy Phala Phala-wildplaas in 2020.

Parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die Artikel 194 Komitee wat ‘n ondersoek doen na die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se geskiktheid om die amp te beklee, gaan tans voort met sy vergaderings.

“Dit is belangrik dat die hof ook bevind het dat die Speaker, in die skryf van die brief aan die president, feitelik korrek en dus nie onwettig was nie. Daarin het hy hom in kennis gestel van die begin van die proses van die Artikel 194 Komitee.

“Pertinent was die Speaker se optrede in ooreenstemming met die beginsel van samewerkende regering”, het hy bygevoeg.

Mothapo sê by die afhandeling van die ondersoek word van die komitee verwag om ‘n verslag voor te lê met bevindinge en aanbevelings wat dan deur die Nasionale Vergadering oorweeg sal word.

Leave a Reply