Skip to main content

Sanctum

Joan Hambidge

Diė naam en digter het geen bekendstelling nodig nie. Sanctum is ’n versameling gedigte wat in die teken van verlies, ook in die huidige era, staan. Die verse lui ʼn terugkeer in na die skrywer, digter, filosoof en feminis se eerste werke, met ʼn speelsheid, melancholie en nostalgie wat byval sal vind by ‘n groot aantal poësieliefhebbers.

Daar is verse oor verlore liefde, verlore woorde, verlore plekke … Daar is lykdigte vir gestorwe geliefdes en skrywers, en gedigte oor inperking en onsekerheid. Daar is verse oor kerke en heilige plekke, vandaar die titel.

Soos ons van Hambidge kan verwag, is die verse deurgaans persoonlik en intiem, maar met die afstand wat woordvaardigheid meebring – iemand wat hul vaardigheid geslyp het en ’n universele noot kan raakslaan.

Kritikus Johan Myburg merk tereg hieroor op: “Wat deurgaans opval, is Hambidge se omgaan met ‘hartenswoorde’: woorde wat ʼn duidelike persoonlike betekenis het, maar só geboetseer word dat dit die leser toelaat om ʼn eie ‘hartensbegrip’ daaraan te koppel.

“Wat veel vreugde bied is die spel en dikwels speelse manier waarmee sy hier omgaan.

Hambidge, wat gister 66 jaar geword het, is ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse digter, akademikus en letterkundige kritikus. Sy is welbekend vir haar uit-die-kas-skryfstyl en wye verwysingsraamwerk. Haar teoretiese bydraes handel meestal oor Roland Barthes, dekonstruksie, post-modernisme, psigoanalise en die metafisiese.

Vir haar tweede bundel, Bitterlemoene (1986), ontvang sy die Eugène Marais-prys vir letterkunde. Meer onlangs volg die Litera-prys vir haar poësie. Hierdie prolifieke digter het al meer as 26 bundels uitgegee.

Leave a Reply