Lede van Die Waarheid het Saterdag nader kennis gemaak met 181 gesinne in Vereeniging wat nie net moedeloos is vanweë armoede nie, maar wat geen vooruitsig het om werk te kry nie.
Dié wat wel werk, is òf karwagte, òf hulle help Nico Pretorius van Hulp Aan My Mense In Nood in die klein groentetuin wat hy oorkant sy woning aangeplant het. Nico het ook nou jong vrugtebome langs die straat geplant om honger mense te help.
Om die kospakkies opgemaak te kry was ‘n reuse taak, veral omdat Die Waarheid daaraan glo om plaaslike winkels te ondersteun. Margaret Mobeng, die bestuurderes van Shoprite Kempton Park, se oë het gerek toe sy op kort kennisgewing gevra is om die inhoud van die pakkies te verskaf. Sy het verduidelik dat hul besig was met ‘n groot voorraadopname, maar nà pleidooie van 2 werknemers by Die Waarheid, het sy ingestem om te help.
Sy het erken dat sy teen Donderdag wou kop uittrek. “Toe ek besef watse werk voorlê met die voorraadopname, én die rye en rye kruideniersware wat ons vir Die Waarheid moes pak, wou ek hulle bel en sê dat ons dit nie betyds gepak gaan kry nie. Nou kyk, die Here praat met my. Gereeld. Dit was Hý wat gesê het dat alles sal uitwerk. En dit het!”
Om te sién hoe dankbaar mense is vir basiese kospakkies veroorsaak ‘n knop in baie kele. Louis Liebenberg se hart en hande is en was nog altyd oop om mense in nood te help.
Almal wat daar vergader het vir kos was goedgemanierd, en het geduldig in rye gestaan terwyl die pakkies uitgedeel was. Jongmense het die oues en kreupeles gehelp om hul goedjies aan te vat en te dra. Dit was duidelik dat daardie mense, hulle wat min of niks het nie, vir mekaar omgee.
Die Waarheid raak nou oral betrokke om Afrikaners in nood by te staan. Een ding wat Die Waarheid by sukkelende gemeenskappe wil tuisbring, is dat ons nie daar is om heel tyd kospakkies uit te deel nie. Nee, ons wil gemeenskappe verhef, sodat hulle vir hulself en vir ander armes in hul omgewing kan help. Die Waarheid wil projekte aanpak wat werk kan skep; werkloses wat bereid is om te wérk as hulle die kans gegee word om byvoorbeeld groentetuine aan te plant op groot stukke grond sodat almal in hul omgewing selfonderhoudend kan begin leef.
As jy dus ‘n groot stuk grond het wat onbewerk is, en jy wil dit beskikbaar stel vir sò ‘n projek of jou dienste wil aanbied byvoorbeeld om te help met van die projekte wat ons aanpak, kan jy ons gerus kontak by Die Waarheid.
Hierdie is maar net één manier hoe jý saam met Louis Liebenberg kan sorg vir ons mense.