Skip to main content

Die gewilde sanger Dennis East is vanoggend oorlede nadat hy Vrydag ‘n beroerte gehad het.

East, wat veral vir die mega-treffer A Million Drums onthou sal word, was ook bekend as liedjieskrywer en vervaardiger.

“Hy was juis besig om Manie Jackson se nuwe CD op te neem,” het sy bedroefde agent, Ria van Wyk, aan Die Waarheid gesê.

Van Wyk, wat meer as vyftig jaar met East saamgewerk het, het hom beskryf as “‘n uitgaande, liefdevolle persoon wat nooit ‘n lelike woord vir ‘n mede-kunstenaar te sê gehad het nie – selfs die wat nie kon sing nie. Hy was ‘n unieke persoon.”

Lydia Winchester, die doyenne van skakelbeamptes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, sê East was “die mees fantastiese mens” wat sy ooit in haar lewe ontmoet het.

Sy het hom juis vanjaar nog in die Vaaldriehoek sien optree en sy is opnuut getref deur sy professionaliteit en charisma.

“Die jong kunstenaars kon soveel by hom leer,” het sy gesê.

Volgens Van Wyk was East ‘n diabeet wat kort voor sy dood met ‘n beenbesering gesukkel het.

East is oorspronklik van Pietermaritzburg en het sy musiekloopbaan in die laat 1960’s begin. Hy het in die 1970’s saam met The Rising Sons opgetree en die rockgroep Stingray saam met ander Suid-Afrikaanse musikante in 1979 gestig. Hy het aan televisieprogramme soos Pump Up The Volume, Coca Cola Pop Stars en Popstars 2010 deelgeneem.

Leave a Reply