Skip to main content

In die nasleep van koningin Elizabeth II se dood laas week word vinnig gewoel met lankstaande versugtinge van sekere Statebondslande om onafhanklik te word.

Antigua en Barbuda, – ‘n soewereine eilandland in die Wes-Indiese Eilande wat tussen die Karibbiese See en die Atlantiese Oseaan geleë is – se eerste minister vra nou vir ‘n referendum oor republiekwording.

Die eerste minister van Antigua en Barbuda het in die openbaar onderneem om, indien hy herverkies word, ‘n referendum te hou oor republiekwording en so die Britse monarg as die Karibbiese nasie se staatshoof te verwyder.

Gaston Browne se aankondiging het gekom net twee dae ná die dood van koningin Elizabeth II, hoewel die premier beklemtoon het dat sy voorstel nie as ”n daad van vyandigheid’ beskou moet word nie.

Browne het Saterdag met ITV gepraat ná ‘n formele seremonie waartydens die koningin se seun, koning Charles III, as die nuwe heerser verklaar is, en gesê die referendum sal “binne die volgende drie jaar” plaasvind.

Die inisiatief “verteenwoordig geen vorm van disrespek teenoor die monargie nie”, maar weerspieël “langdurige aspirasies” van Antigua en Barbuda se mense, het die premier verduidelik.

Die Britse koning dien as staatshoof in 14 lande, buiten die Verenigde Koninkryk – Antigua en Barbuda, Australië, die Bahamas, Belize, Kanada, Grenada, Jamaika, Nieu-Seeland, Papoea-Nieu-Guinee, Saint Kitts en Nevis, Saint Lucia, Saint Vincent en die Grenadines, Salomonseilande en Tuvalu.

Verlede jaar, ná ‘n stemming in die parlement, het Barbados die koningin as hoof van die staat verwyder en ‘n parlementêre republiek geword.

Leave a Reply

error: Content is protected !!