Skip to main content

 

Vryheid wink in die wildernis

Bernard Stiglingh is ʼn veldgids in die Pafuri-kamp, een van die noordelike kampe in die wêreldbekende Kruger Wildtuin in die Limpopo Vallei. Gerald Eloff het met hom gaan gesels oor noue ontkominge met leeus, naïewe buitelanders en stropers wat hom soms teen die mure (en rante) uitdryf. Soos die Yanks oor die Disney-treffer The Lion King

Waaruit bestaan jou tipiese dag as veldgids?

Ek is vroeg op – voor die son opkom. Ek dink die Engelse noem dit die “dawn chorus.” Die voëls en die natuur maak my wakker (al klink dit soos ʼn cliché). Vir die groter meerderheid van die dag, is ek buite. Die lente is my gunstelingseisoen, veral ná die eerste reën. Vroegdag ontmoet ek die gaste vir koffie, dan is ons in die veld vir so vier ure, soms tot ses ure, afhangende van wat die gaste wil sien. Dis te warm in die middae, so dan keer ons laatoggend eers terug. Voor sonsondergang gaan ons gewoonlik na uitkykpunte waar daar diere is, meestal naby die Levuvhu- en Limpoporivier.

Watter kwalifikasies met ʼn veldgids agter sy naam hê?

Veldgidse moet ʼn FGASA (Veldgids Assosiasie van Suider-Afrika) kwalifikasie voltooi – ʼn hele paar plekke bied dit aan. Daar kan jy drie vlakke voltooi, ʼn vakleerling veldgidskwalifikasie, gevolg deur ʼn professionele veldgidskwalifikasie, soos wat ek het. Daar is ook ʼn gevorderde kursus. Die kursusse kan van 2-3 maande tot ʼn jaar duur. Ek is gelukkig met die tweede vlak kwalifikasie en ondervinding tel natuurlik ook in jou guns.

Ek is seker daar is ʼn paar staaltjies wat jy oor gevaarlike situasies met wilde diere kan vertel. Watter staan vir jou uit?

Ek het al myself, glo dit of nie, met elke spesie van die Groot Vyf in ʼn gevaarlike situasie bevind – sommige meer gevaarlik as ander! Dit is diė met olifante en leeus wat my sal bybly.

Ek is lief daarvoor om op my eie te stap – dis die beste manier om die bos te leer ken, maar jy moet op jou hoede wees. Een besonderse warm middag het ek deur ʼn mopaniewoud geloop. By ʼn deel waar die woud bietjie oopmaak, kom ʼn trop van 15 olifante op my afgestorm, gevolg deur hierdie massiewe olifantbul wat sy ore flap en trompetter soos jy nie sal glo nie. My hare het regop gestaan toe ek daai klank hoor. My opleiding skop toe in en ek bepaal vinnig hoe die wind waai, en hardloop in die teenoorgestelde rigting na ʼn digte mopaniebos. Dit was ook ʼn risiko want daar was baie buffels in daai bos. Ek het gebewe soos ʼn riet, al het ek my geweer by my gehad.

Ek los die beste storie vir laaste! Jimmy, ʼn spoorsnyer saam met wie ek vir langer as ʼn jaar gewerk het, het my baie geleer van die bos. Ons het ʼn leeu se spore naby ʼn digte tambotie-ruigte gevat – daar was ʼn trop van sowat 13 leeus, waarvan twee mannetjies was. Ek het die leeuwyfie eers gehoor, voor ek haar gesien het sowat tien meter voor ons, toe sy vanuit die ruigtes verskyn. Ek kon nie veel onthou nie, net ek wat my geweer outomaties oorhaal en dit op haar rig. Ek hoor toe Jimmy sê: “Don’t shoot!” Dit was gelukkig nie sy eerste keer in só ʼn situasie nie. Jimmy gaan staan toe heel kalm agter my, terwyl hy my aan my gordel vat en agteruit stap terwyl die tambotietakke ons stukkend krap. Met elke tree wat ons agtertoe gee, kom die leeu grommend ʼn tree nader. Om dinge te vererger, sluit nog drie wyfies by haar aan! Jimmy kry toe die slim plan om hulle met ʼn stok te gooi, en hulle spat uitmekaar, net om weer brullend terug te keer. Gelukkig draai hulle toe weg …

Daai was ʼn noue ontkoming, al het ek ook insidente met buffels en renosters gehad. Ek glo die wind is jou beste vriend in die bos – daar gebeur so baie, dat geraas nie eintlik saak maak nie. Maar as hulle jou eers ruik – het jy moeilikheid.

Jy werk baie met oorsese toeriste, jy moet sekerlik soms snaakse goed sien?

Mense is blerrie naïef, sê ek jou. Altyd as ons saans terugry na die kamp toe, ry ons verby die hoë Orpentoring, met ʼn rooilig aan sy bopunt. Ek maak altyd die grappie – nadat ek na die lig verwys – en sê dat die mense moet kyk hoe “hoe mooi helderrooi Mars skyn in die Afrika-hemel”. Almal lag dan – behalwe een keer toe ʼn Amerikaanse vrou sê: “it is the most beautifu thing I have ever seen” – doodernstig! Ek kon dit nie oor my hart kry om vir haar te vertel dis net ʼn lig op ʼn toring nie. Jy sal dit nie glo nie – maar baie van die buitelanders se enigste verwysing na Afrika is die fliek The Lion Ling. Regtig? Met al die boeke en flieks oor die vasteland beskikbaar, is jou enigste verwysing na Afrika The Lion King? Dis donners belaglik.

Wat dink die meeste mense wat jy as veldgids doen? Het hulle ander persepsies?

Meeste mense het geen idee nie. Ek dink baie Suid-Afrikaners verkies maar die Kruger Wildtuin met sy teerpaaie en wildbesigtiging vanuit die gemak en veiligheid van hul motors, hulle is nie baie bekend met die Safari-idee nie. Dié safari’s waarby ek betrokke is, is in elk geval baie duur en meeste van ons kliënte is buitelanders. Sommige mense dink ons is in die voorste linies met R4 gewere en jag stropers. Min weet eintlik wat ons doen.

Wat steek jou dwars in die krop van toeriste en besoekers?

Mense wat met minagting met die natuur omgaan, en geen respek het nie. Magtig, ek meen, ek het al gesien hoe mense skaars ʼn meter verby ʼn trop leeus ry, sonder om hulle spasie in ag te neem, of hulle sommer uit die pad wil druk? Mense moenie, of eerder, durf nie, die diere se gedrag beïnvloed nie. Dan natuurlik ook rommelstrooi en mense wat diere voer. Hulle besef nie hoeveel skade hulle aanrig nie – blouape, njalas en bobbejane is al uitgesit omdat mense hulle mak maak met hulle gevoerdery.

Ek is seker hier is ʼn paar slange in die omgewing wat mense sal laat ril?

Slange is volop. My kollega, Andre, het so drie weke gelede ʼn wipneuskobra gevang met sy twee slangstokke, diė outjie was amper drie meter lank. Hy het hom weer vrygelaat. Hier is ook genoeg swart mambas, veral in die rante waar daar baie dassies is. Mosambiekse spoegkobras, boomslange, voëlslange, pofadders – jy sal hulle hier sien. Natuurlik reuse luislange ook.

Het jy al te doen gehad met stropers?

Nie direk nie – maar wel die verwoesting wat hulle agterlaat. Ons sien gereeld spore in ons gebiede en ons het al baie buffels, bobbejane en olifante in strikke gekry – dis ʼn aaklige manier om dood te gaan. Ek verstaan daar is mense wat dit doen vir oorlewing, mense wat strikke stel vir kos. Maar daar is ook die tradisionele helers wat enigiets gebruik vir hul konkoksies – dele van ʼn ietermagog, luiperd en tierboskatvel, tot krokodilbrein. Dan is daar ook diegene wat gif strooi – dan vrek die leeus én die aasvoëls wat aan hulle gaan vreet. Sommer Two-Step wat jy by die korporasie koop word gebruik. Dit het ʼn aaklige effek op diere.

Dink jy die regering doen genoeg vir bewaring?

Daar is baie goeie mans (en vroue) wat fantastiese bewaringswerk op grondvlak doen. Maar of die regering genoeg doen is ʼn ander storie – te min geld word voorsien, te veel korrupsie en te min stropers wat aan die pen ry. In die noorde van die Krugerwildtuin, noord van die Olifantsrivier, is daar skaars leeus oor. Mense gaan altyd so oor renosters aan, hulle vergeet van die aasvoëls wat deur karkasse vergiftig word. Aasvoëls is krities vir die ekosisteem, as hulle nie meer daar is nie, het jy moeilikheid. Dis die verkragting van die wildernis – ek praat nie van die ou wat ʼn vlakvark vir kos met sy spies doodmaak nie – dis die stropers wat strikke stel en nie omgee wat hulle vang nie.

Waarvan hou jy van die stad, en nie?

Die twee verskil dag en nag. Ek mis nog altyd lekker kos. Ek mis ook my pa en my broer en my vriende. En meisies, natuurlik. Ek sal egter niks verruil vir my lewe in die natuur nie. Die stad is ʼn onnatuurlike habitat vir mense.

Die stad sal jou doodmaak. Hier is ek en my spoorsnyer beste vriende – ʼn ouer Tsonga wat ’n jong witman wysheid leer. Waar kry mens dit? Hier is vryheid – die wildernis is die beste plek in die wêreld.

Leave a Reply