Skip to main content

Korrespondent

Beesboere kan van vandag af weer voortgaan met die vervoer van lewende hawe nadat Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD), aangekondig het dat die verbod op veevervoer om bek-en-klouseer te bekamp, afgestel is.

Die kennisgewing, wat aangekondig is in vanoggend se Staatskoerant, is onmiddelik van krag en bring ’n einde aan ’n verbod van drie weke op veevervoer.

Hoewel die drie Kaapse provinsies en Mpumalanga vry verklaar is na ’n onlangse uitbraak waartydens 116 gevalle van die gevreesde siekte landwyd aangemeld is, bestaan daar steeds kommer in Gauteng, Noord-Wes, die Vrystaat, Limpopo en KwaZulu-Natal.

In dié opsig het die department spesifiek na die volgende gebiede verwys: Marquard, Viljoenskroon, Harrismith, KwaNongoma, Ulundi, KwaHlabisa, eHluhluwe en Mtubatuba.

Streng bek-en-klouseermaatreëls sal veral in Limpopo gehandhaaf word, het Didiza gesê.

In die Vrystaat en KwaZulu-Natal sal siektebeheergebiede ook noukeurig dopgehou word.

Intussen word die landbougemeenskap vermaan dat sekere regulasies steeds geld.

Dit sluit onder meer in die verantwoordelikheid van boere en lewende hawe transportmaatskappye om te kan bewys aan wie vee behoort, dat alle inenting na wense is en dat diere by hul bestemming vir 28 dae in kwarantyn geplaas sal word.

Gerhard Schutte, die uitvoerende hoof van die rooivleisprodusenteorganisasie, het gesê hy is verheug oor Didiza se aankondiging.

In ’n vrystelling van die organisasie, sê die RPO dat hard gewerk word om ’n gebeurlikheidsplan vir die toekoms daar te stel.

“Die RPO en nasionale Dieregesondheidsforum werk nou saam met ‘n bedryfsgeoriënteerde tegniese taakspan wat bestaan uit onder andere, internasionale kundigdes en DALRRD om ’n medium – en langtermyn strategie op te stel vir die pad vorentoe.

“Een van die uitkomste van die strategie is om daadwerklik te sorg dat ‘n entstof spesifiek vir Suid-Afrika ontwikkel word en dat vryemark beginsels hier moet geld.”

Schutte was tesame met Dewald Olivier, sy eweknie by die SA Voerkraalvereeniging, ten sterkste gekamp teen ’n verlenging van die vervoerverbod.

Albei het gewaarsku dat die verbod onprakties is vir die volhoubaarheid van ’n bedryf wat werk verskaf aan sowat 500 000 mense, en ’n omset het van R80 biljoen per jaar.

Olivier het onlangs opgemerk dat die verbod wat op 18 Augustus ingestel is, beteken dat boere nie hul kuddes by voerkrale of vendusies kan uitkry nie.

Dis ondermeer genoem dat dit die kontantvloei van boere bedreig, en in die lang duur ’n verhoging van plaaslike rooivleis pryse kan veroorsaak.

Die moontlikheid van ’n rooivleistekort is ook geopper.

Leave a Reply

error: Content is protected !!