Skip to main content

Gert Basson

Jou gemiddelde polisiebeampte in ons land verdien tussen R13 000 en R15 000 per maand. Die Vrystaatse Polisie het egter vir 132 karbatterye in die laaste twee jaar betaal teen die maandelikse salaris van wat een van sy konstabels verdien!

Bheki Cele, polisieminister, moes onlangs in die parlement bontstaan nadat hy diė skokonthulling gemaak het toe hy vrae van die DA moes beantwoord.

Volgens hom het die polisie 1 814 motorbande teen R12 miljoen in die laaste finansiële jaar aangekoop en 134 karbatterye teen R1.9 miljoen.

Dit beteken een karbattery het R15 000 gekos en een motorband sowat R6 600. Jou gewone karbattery kos tans sowat tussen R1 000 en R1 500.

Die DA het gesê hulle verwag ’n ondersoek om te bepaal wie die diensverskaffer was en wil ook hê die publieke beskermer moet hierin optree.

“Dit is skokkend om te dink dat ernstige misdaad soos moord, verkragting en aanranding aan die toeneem is in die Vrystaat en daar amper ook geen eenhede of hulpbronne in sekere distrikte is nie,” meen George Michalakis, DA-woordvoerder.

William Bulwane, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het gesê hy weet nie hoeveel motorbande en batterye kos nie en doen ook nie bestellings namens die polisie nie.

“Ek kan nie kommentaar lewer op hoeveel motorbatterye kos nie.”

Leave a Reply