Skip to main content

 

Gert Basson

‘n Voormalige lid van die Valke is Woensdag vir 15 jaar tronk toe gestuur nadat hy vuurwapens by die polisiediens gesteel het.

Adjudant-offisier Danie Reyneke (63) is in die streekshof in Durban skuldig bevind op aanklagte van diefstal van vuurwapens, die besit van onwettige ammunisie, die besit van onwettige plofstof, asook die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

Hy het glo hierdie misdade tussen 1997 en 2014 gepleeg.

Volgens Adjudant-offisier Bonnie Nxumalo, polisiewoordvoerder, het Reyneke in hierdie tydperke vuurwapens uitgeteken vir balistiese toetse en dit nie weer ingehandig nie.

Sy afgetrede kollega, Kolonel Herbie Heap, het onraad vermoed en ’n ondersoek van stapel gestuur.

In 2014 is ongelisensieerde vuurwapens, plofstof en ammunisie in Reyneke se besit gevind.

“Die Valke se ernstige korrupsie-eenheid het ondersoek ingestel en bepaal dat Reyneke sy mag as polisiebeampte misbruik het om vuurwapens by polisiestasies in die noorde van KwaZulu-Natal te steel,” sê Nxumalo.

Reyneke is ook skuldig bevind aan nalatige verlies van ‘n vuurwapen nadat twee van sy vyf gelisensieerde vuurwapens nie opgespoor kon word nie.

Hy is in Julie 2018 in hegtenis geneem en die hof het hom op ‘n waarskuwing vrygelaat. In Julie 2022 is hy skuldig bevind, maar het nie opgedaag vir die vonnisoplegging nie.

’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is daarna uitgereik.

Leave a Reply