Skip to main content

 

Gert Basson

’n Leerder van Northbury Park Secondary School in Pietermaritzburg was so geheg aan sy selfoon dat hy in ’n piromaan verander het toe die hoof die toestel konfiskeer.

Pandemonium het Woensdag by hierdie skool in KwaZulu-Natal uitgebreek toe talle leerders en onderwysers hulpeloos moes toekyk hoe die rook uit hulle hoof se motor buite borrel.

In die video, wat intussen soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, kan gesien word hoe een van die onderwysers verwoed probeer om die vuur met ’n tuinslang te blus.

Dít het gekom nadat die waarnemende hoof glo die oggend een van die leerders met ’n selfoon betrap het en dit toe dadelik gekonfiskeer het.

Die leerder is glo daarna huistoe gestuur, maar het later teruggekeer met ’n tuisgemaakte petrolbom waarmee hy die hoof se Hyundai i30 bestook het.

“Sy foon was gekonfiskeer en in ’n veilige plek gebêre,” het Kwazi Mthethwa, woordvoerder van die departement van onderwys, bevestig.

Volgens Mthethwa is die vuur wel geblus, maar die motor is erg beskadig.

“Ons veroordeel hierdie barbaarse gedrag van die leerder ten sterkste. Ons sal streng optree en daar sal vandag (Donderdag) met die distriksbestuurder vergader word om die situasie verder te hanteer.

“Die department is geskok en teleurgesteld in die leerder se gedrag,” het Mthethwa bygevoeg.

Intussen het die skool versoek dat sy graad 8 tot 11 leerders nie Donderdag skool toe kom nie en kennis gegee dat slegs die matrieks se eksamens sou voortduur.

Leave a Reply