Skip to main content

Dirk Lotriet

Die privaatvervolging van oudpresident Jacob Zuma teen die staatsadvokaat Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan is baie meer as net nog ‘n skuif in die skaakstryd van Zuma se voortdurende regsoorlog – dit is ‘n saak wat skokgolwe regoor die wêreld kan laat uitkring.

Die saak stuur af op ‘n botsing van die twee groot olifantbulle in  die Suid-Afrikaanse politiek die afgelope dekade – oudpres. Zuma en pres. Cyril Ramaphosa.

Die verdediging lys oudpres. Zuma in hofstukke wat ingedien is as die eerste getuie in die saak. In verskeie sake oor die afgelope twee dekades teen die staat het Zuma nog nooit uitgebreide getuienis gelewer nie.

Die naam van pres. Ramaphosa is tweede gelys. Dit is ‘n ope geheim dat Ramaphosa en Zuma nie veel ooghare vir mekaar het nie en in die verlede al dikwels agter die skerms koppe gestamp het.

Dit sal egter die eerste keer wees dat hulle op so ‘n openbare verhoog teen mekaar te staan kom.

Dit is algemeen bekend dat die stryd tussen die Zuma- en Ramaphosa-faksies in die ANC een van die groot kniehalters vir vooruitgang in Suid-Afrika is. Die betrokkenheid van die twee groot kanonne in SA politiek sal ongetwyfeld groot belangstelling in die internasionale media ontlok.

Die res van die lys van getuies lees soos ‘n wie-is-wie van Suid-Afrikaanse ampsdraers. Daarop verskyn die name van Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, Advokaat Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, dr. Zola Dabula, geneesheer-generaal van die nasionale weermag, mnr. Wiellie Hofmeyer, voormalige nasionale adjunkdirekteur van nasionale vervolging, en ambassadeur Thembisile Majola, direkteur-generaal van die staatsveiligheidsraad.

Die nuus dat Zuma vir Downer en Maughan privaat gaan vervolg, het die land vandeesweek regop laat sit. Die nasionale vervolgingsgesag het vroeër besluit om Downer nie te vervolg nie en het ‘n nolle prosequi-sertifikaat uitgereik na klagtes dat Downer in Augustus verlede jaar dokumentasie met vertroulike mediese inligting aan ‘n joernalis laat uitlek het sonder dat hy gemagtig was om dit te doen.

Downer is die aanklaer in verskeie van die staat se sake teen Zuma.

Walter Niedinger, ‘n lid van Zuma se regspan, wou nie teenoor Die Waarheid bespiegel oor die moontlike uitkoms van die saak nie. “Die regter in die strafsaak sal oor die meriete van die saak moet beslis,” het hy gesê.

Maar hy is optimisties oor hulle kanse. “Die wet is baie duidelik dat niemand sonder skriftelike toestemming van die nasionale direkteur van vervolging enige inligting aan enige persoon mag uitgee in ‘n strafsaak nie, tensy dit deel is van sy of haar werk is.

“Om daardie inligting aan ‘n joernalis te gee, is sekerlik nie deel van sy werk as aanklaer nie. Ons het bewyse dat die inligting by die joernalis uitgekom het en ons het bewyse van skakeling tussen Downer en die joernalis.”

Ingevolge die dagvaardiging moet Downer en Maughan op 10 Oktober in die Pietermaritzburgse Hoogeregshof verskyn.

Leave a Reply