Skip to main content

Die Switserse regering het drastiese stappe gedoen om die energiekrisis wat Europa beet het, te verlig, het die plaaslike koerant Blick gister berig.

Diegene wat hierdie winter die regering se verhittingsregulasies oortree, kan ‘n boete of selfs tronkstraf opgelê word, het dit berig.

Ingevolge die reëls wat in ‘n nuwe regerings-verordening ingestel is, kan geboue met gasverhittingstelsels slegs kamers tot 19C verhit. Warm water kan net tot 60C verhit word, en ander verwarmers word verbied. Swembaddens en saunas in Switserland sal hierdie winter ook koud moet bly.

Mense wat die reëls oortree, kan volgens Blick boetes van tot 180 daaglikse ‘strafeenhede’ in die gesig staar of vir drie jaar agter tralies beland. ’n Daaglikse straf-tarief in hierdie geval kan tussen 30 en 3 000 Switserse frank (R528 tot R52 870) beloop, afhangend van die erns van die oortreding en die ekonomiese omstandighede van die oortreder, het die dagblad bygevoeg.

Nutsmaatskappye en ander besighede wat doelbewus hulle gaskwotas oorskry, sal waarskynlik selfs erger strawwe opgelê word. Die regering sê egter hy beplan nie om ‘n polisiebeampte in elke huis in te stuur nie.

Die Switserse kantons het nou tot 22 September om besware in te dien wat verband hou met die regering se nuwe konsep-verordening.

Westerse sanksies wat Rusland opgelê is in reaksie op Moskou se militêre operasie in die Oekraïne, het daartoe gelei dat gaspryse tot rekordhoogtes geklim en algehele inflasie opgejaag het.

Aardgaspryse in Europa het Maandag met 30% gestyg nadat Rusland se Nord Stream 1-pyplyn weens sanksiesverwante instandhoudingskwessies nie daarin kon slaag om bedrywighede te hervat nie. Die Russiese energiereus Gazprom, wat die pypleiding bedryf, het gesê die gasroete sal onbepaald gesluit bly.

Die Russiese regering in Moskou het bygevoeg dat pypleidingbedrywighede belemmer sal word solank as wat die Westerse sanksies in plek bly.

Leave a Reply