Skip to main content

Korrespondent

Terwyl spanning steeds heers tussen China en Taiwan ná Augustus se besoek van die Amerikaanse speaker, Nancy Pelosi, aan die regering van pres. Tsai Ing-Wen in Taipei, het ’n Amerikaanse dinkskrum gewaarsku teen moontlike optrede vanuit Beijing.

Volgens ’n verslag saamgestel deur die Mercatus Center aan die George Mason Universiteit in Noord-Virginia, bestaan daar tans ’n baie sterk moontlikheid dat China diė wegbreekrepubliek kan inval.

Dit sal egter die sterkste moontlike reaksie wees wat oorweeg word, en kan saamval met die kansellering van belangrike internettoevoer en broodnodige tegnologiese data aan die VSA.

Volgens Mercatus kan dit self daarop neerkom dat China fisies die ondersese konnektiwiteitskabels in die Stillelandse See na Amerika se weskus toe sny.

Mercatus waarsku dat selfs al sou China nie militêr optree teen Taiwan nie – ’n self-erkende eilandrepubliek wat sedert 1945 aanspraak maak op onafhankliklikheid van die Chinese vasteland – kan moontlike stappe deur die Chinese owerhede nogtans ernstige gevolge vir die VSA inhou.

Sou Beijing byvoorbeeld besluit om data-toevoer na Amerika op te skort, kan dit die vervaardiging van halfgeleiers in Silicon Valley ’n nekslag toedien weens die groeiende tekort aan neon.

Nagenoeg 90 present van die wêreld se aanvraag na dié silwer bestanddeel wat vir mikroskyfies gebruik word, word in Oekraïne vervaardig.

Sedert Rusland die Oekraïne in Februarie begin aanval het, raak die tekort aan neon al hoe erger en die agterstand van mikroskyfie-vervaardiging in Kalifornië al groter.

Sonder data-toevoer vanuit China om halfgeleiers vir tegnologiese toestelle te programmeer, kom Silicon Valley se rekenaarindustrie tot ’n stilstand, verklaar Mercatus.

Dit moet boonop nie buite rekening gehou word dat China wel ook militêr kan optree teen Taiwan nie, in welke geval die verskeping van seevrag deur die Taiwan Seestraat ernstig ontwrig kan word.

In só ’n geval sal uitvoere van Suid-Afrika se grootste handelsvennoot ook nie uit hawens soos vanuit Sjanghai en Ningbo verskeep kan word nie.

Die Taiwan Seestraat, ’n small seeweg wat China en Taiwan van mekaar skei, dra na raming sowat 21% van die wêreld se skeepsvrag.

Navorsingsvennote verbonde aan Mercatus, Christine McDaniel en Weifeng Zhong, sê in die verslag dat optrede deur China ná Pelosi se besoek nie gering geskat moet word nie.

Houervrag ter see en digitale ontwrigting sal van die ergste gevolge wees wat ook kan uitkring na ander ekonomië, het McDaniel en Zhong bygevoeg.

Leave a Reply