Skip to main content

 

Truss volg blonde leiersusters op Moeder Aarde …

Maak die som: van Margaret Thatcher na Theresa May en nou Liz Truss. In vier dekades, drie blonde Engelse Rose wat ‘n leierland lei. En oorkant die Engelse kanaal is blondekoppe aan die stuur van kernsake in die Europese Unie. Om nie te vergeet van poppolitiek se Ivanka Trump en vaandeldraer-blondines soos Geraldine Ferraro, Hillary Clinton, Angela Merkel en ons eie Dene Smuts en Francis Kendall nie. Truss se bewind in Brittanje het begin en bevestig blondines is meer as net ‘n haarkleur … onder daai ligte krone skitter sagte staal, skryf brunet Sonnette Lombaard.

Vroue met blonde haardosse is lank aan die ontvangkant van grenslose grappe, flou en skerp, oor hulle gewilde haarkleur waaraan allerlei konnotasies, reg of verkeerd, gekoppel word. Kyk ‘n mens egter na die wêreldnuus wil dit al meer lyk of blondines die laaste lag. Soveel van prominente blondines, so gebore én so gekleur, op die wêreldverhoog wat tans hul merk maak, het jy lanklaas gesien. Hollywood en die magtige vermaakbedryf het nog altyd die gewilde “blonde golf” bloots gery van Greta Garbo, Marilyn Monroe, Grace Kelly tot Brigitte Bardot, Twiggy, Dolly Parton, en die meer eietydse Madonna, Meg Ryan, prinses Diana en ons eie Charlize. Deesdae is dit egter toenemend die meer “gewigtige” arenas wat deur blondekop-vroue suksesvol betree en wel, amper geannekseer word.

En dit maak sin, verklaar, prof. Amanda du Preez, visuele kultuurghoeroe van Tukkies, wat verduidelik die geskiedenis verklap meer. “Die mite van die blondine het ‘n lang geskiedenis en het skynbaar begin toe die Romeinse aristokrasie se vroue hulle (Latynse donkerder) hare begin ‘blond’ kleur het om meer soos die Germaanse buurskoonhede, alhoewel slawe, te lyk.”

Die nuuste blond wat breëbors na vore tree, is Liz Truss, nuwe Britse eerste minister van die Konserwatiewe Party wat van gister die Britse volk moet lei. Sy trap in die diep spore van haar blonde Britse voorgangers en partygenote, veral die Ystervrou Margaret Thatcher (1979–1990) en Theresa May (2016–2019).

Truss, klaar gedoop die Millennium se Ystervrou, is op 47 ‘n vars bries in Brittanje se warmste stoel. Dat sy kleur na Downingstraat 10 bring, is gewis. Reeds as minister van buitelandse sake het sy graag haar liefde vir modes en mooi aantrek en veral helder rooi, ook in stilettos, afgewys. As ma van twee tienerdogters is sy ‘n vars voorbeeld van hedendaagse moderne vrouwees én in politiek wat hul staal eiesoortig toon. ‘n Onbeskaamde fan van blonde sangsensasie Taylor Swift, laat dié moderne ma sommer haar sosiale media-veldtog aan haar dogters oor. En, het sy gebieg, sy sing en dans soggens op die maat van Bruce The Boss Springsteen se treffer Dancing In The Dark en het min wilskrag teen ‘n lekker burger.

Ook bekend as “the Darling of the Tory Right”, is Truss ‘n voorbokdanser op partytjies en g’n hoogheilige engel nie, maar ‘n mens en vrou wat die lewe in álle fasette proe. ‘n Affair met ‘n Tory-kollega het uitgelek en byna voortydig haar politieke aspirasies gekelder, maar haar ouditeurman Hugh O’Leary het haar vergewe en hul huweliksboot bevaar weer kalm waters.

As Britse leier wag ‘n taai regeertyd op Truss wat die Britse volk deur ‘n donker ekonomiese tyd moet bestuur en ook haar leiersrol in die durende Oekraïniese oorlog moet voortsit. Oor die kanaal is daar die sensitiewe spelle en skuiwe met haar Europese bondgenote wat steeds suur braak nadat die Britte die EU verlaat het.

Dis ook waar Truss haar blondekop-susterleiers in vol aksie sal beleef. Die Duitser Ursula von der Leyen, president van die Europese kommissie, en Roberta Metsola van Malta die president van die Europese parlement. Meer noord is daar die blonde Sanna Marin, die jong, sexy Finse eerste minister wie se jolliefde opslae maak. In Kanada voer die mooie Mélanie Joly die woord as minister van buitelandse sake. Truss het self twee blondekoppe in haar splinternuwe kabinet aangestel: Anne-Marie Trevelyan as die vervoerminister en Penny Mordaunt as leier van die Britse Laerhuis en daar is natuurlik haar blonde buurkollega, die Skotse premier Nicola Sturgeon.

As dit waar is dat blondines met blink breine tans die oog vang in internasionale politiek, moet erkenning gegee word aan die blonde evas wat hulle vooruit geloop het. Dit sluit in wyle Geraldine Ferraro, wat met haar Italiaanse wortelflair die eerste vrou was om as vise-president in die VSA te staan. Later gevolg deur blondekop Dem Hillary Clinton. Argentinië se blonde bom en eerste vrou Eva Perón het natuurlik legendariese status breër as politiek verwerf. Tel daarby die Griekse blonde godin Melina Mercouri, wat nie net as bekroonde sangeres en aktrise wyd geliefd was nie, maar ook diens gedoen het as Griekeland se minister van kultuur en sport. 

Hoewel die stryd om vroueberegtiging ver gevorder het, en vroue juis nie meer op voorkoms alleen getakseer durf word nie, is dit tog interessant dat die blondekop vroulike vaandeldraers in die politiek juis ook veel oor dié geslagstryd verklap.

Dink aan hoe Ystervrou Margaret Thatcher vier dekades gelede genoop was om met ‘n stywer, strenger en stugger voorkoms van die kroon tot toon die tawwe politieke kryt moes navigeer … om daarbinne haar manlike eweknieë op gelyke voet die stryd aan te sê. Ditto ons eie “tannie” Rina Venter, destydse minister van gesondheid. Toe die weliswaar meer “moederlike” Theresa May ‘n paar jaar gelede Downingstraat 10 betree het, was die ys al diep gekloof.

Volgens Amanda is die blonde mite boonop interessant omdat blondines nie net met seksualiteit geassosieer word nie maar ironies genoeg, ook as nader aan die hemelse wesens en werkinge en dus engelagtig geïnterpreteer word, aldus tradisionele beskouinge wat gedokumenteer is. “So, hulle is as beide engele en opwindende godinne bestempel.”

Engele, of nie, twee dekades die 21ste eeu in, kan vroue in politiek some lig, skaterlag, ‘n gewaagde grap vertel en spykerhakke aantrek en weer uitskop en opskop – in kort, die lewe en hul loopbane openlik en oorgawelik geniet. Die geslagspeelveld verander voortdurend, ook in politiek, en vroue mag nou ook daar hul voorkoms en vroulikheid ten volle uitleef én terselfdertyd ernstig opgeneem word. Hulle geslag se fyner bedrading het immers veel te bied in ‘n klipharde wêreld en speel ‘n “sagter” nuanse-rol in oorlewing en vooruitgang in ‘n haastige millenniummensdom. Evas wêreldwyd hou asem op …

One Comment

  • Nadia says:

    Fantastiese artikel, soos gewoonlik Sonnette. Wat ‘n nuwe/vars invalshoek. Ek self wat ‘n blondine is, wat ook vele kere die kollig was vir grappies, verstaan nou opnuut die sielkunde en wetenskap agter die grappies. Dis min dat jy ‘n artikel lees wat werklik jou lewe verryk, asook wat lekker is om te lees. Hou so voort!

Leave a Reply