Skip to main content

 

Isaac Cloete

Die veelbesproke bedrogsaak teen ‘n voormalige munisipale bestuurder in Springbok is vir die soveelste keer uitgestel.

Die polisie op Springbok se kriminele saak teen Nevie Aubrey Baartman en sy medebeskuldigdes, die Cloete-egpaar, Zihaadt en Maralise, sou vandeesweek begin het.

Die saak was vroeër op die rol geplaas vir verhoor vandeesweek, maar Maandag toe weer uitgestel. Beweerde tenderbedrog van R79.9 miljoen is betrokke in die saak.

Die reuse-bedrog het na bewering in 2003 gebeur toe Baartman die DA-munisipale bestuuder van die Nama Khoi Munisipaliteit op Springbok was. Op daardie stadium was die Cloete-egpaar, wat met hom bevriend is, die alleen-direkteure van die konstruksiemaatskappy, MPG Construction, wat na bewering die onregmatige tender vir plavei- en randsteenwerk gekry het.

Hulle maatskappy word as ‘n regs-entiteit ook hierin van bedrog aangekla. Die maatskappy het nie aan die vasgestelde kriteria voldoen nie, aldus dokumentasie voor die hof. Die korrekte aankoop-proses is ook nie gevolg nie en glo eerder doelbewus verontagsaam.

Die tender was vir werk wat aanvanklik in die hoofstraat van Springbok begin het, maar beëindig is toe die bedrogbeweringe die rondte begin doen het.

Zihaadt het vroeër vertel dat hy op sy gemak oor die hofsaak is.

Volgens kapt. Paulus Swartbooi van die Namas strek korrupsie se wortels veel dieper as by die plaaslike munisipaliteit, en meer so as wat baie mense mag dink.

“Politici in posisies sink mekaar se loopbane. Alles ten koste van ons gemeenskappe wat daaronder ly.” Hy bepleit ‘n bedrogvrye munisipaliteit wat waarlik na die behoeftes van die gemeenskappe sal omsien.

Volgens die Valke se woordvoerder, Nomthandazo Mnisi, is die saak nou uitgestel tot in Oktober vir verhoor. Die drie aangeklaagdes, asook MPG Construction, is in Junie 2021 gedagvaar om in die hof te verskyn nadat klagtes van die beweerde bedrog ontvang is.

* Baartman is die EFF se voorsitter in die Noord-Kaap. Hy is ook ‘n sokkerbestuurslid van die Suid-Arikaanse Sokkervereniging (SAFA).

Tydens die drie se vorige verskyning op 3 Mei, het hulle prokureur, Duncan Britz, hom van die saak onttrek. Geen redes is verskaf nie. Hulle het intussen ‘n ander regsverteenwoordiger aangestel.

Leave a Reply