Die Amerikaner Frances Tiafoe het Maandag by die Amerikaanse Ope die viermalige kampioen Rafael Nadal met 6-4, 4-6, 6-4, 6-3 verslaan en só sy tweede Grand Slam-kwarteindstryd gehaal.
Die 24-jarige Tiafoe het vreesloos deur die drie uur en 31-minute tennisriller op die Arthur Ashe-stadion gespeel om sy derde Top 5-oorwinning te verdien. Tiafoe het die bal van oraloor gehamer en in die vierde stel teruggeveg om die eerste Amerikaanse man te word wat die laaste agt in New York gehaal het sedert John Isner in 2018. Hy is ook die jongste een om die prestasie te behaal sedert Andy Roddick in 2006.
“Ek is baie gelukkig, amper in trane, ek kan dit nie glo nie,” het Tiafoe agterna gesê. “Ek het vandag ongelooflike tennis gespeel. Ek weet regtig nie wat gebeur het nie.”