Skip to main content

 

Gert Basson

Kinders word van kleinsaf geleer om die noodnommer – 10111 – te memoriseer. As boewe op jou agterstoep kom dans of jy jouself in ’n lewensgevaarlike situasie bevind, is ons eerste reaksie om die polisie en dié nommer te bel.

Maar, onlangse skokstatistieke wys dat jy in ons land liefs jou lugtyd kan spaar want die kanse dat die manne in blou uniform hulle telefone gaan beantwoord is bra skraal.

Daarvolgens antwoord slegs 44% van die 270 polisiestasies in Suid-Afrika hulle fone, wyl 40% van hulle verkeerde of foutiewe nommers het. ’n Skokkende 15% het glad nie hulle fone geantwoord nie; al het die persoon vir twee minute aanmekaar probeer bel.

Diė verstommende én skokkende verslag is onlangs deur die DA uitgereik.

“Dit beteken dat desperate mense wat in nood verkeer, nié op hulle plaaslike polisie kan staatmaak nie en self moet sien en kom klaar,” sê Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor die polisie.

Die Oos-Kaap het die ergste gevaar met 18 uit 30 polisiestasies wat nie ’n werkende telefoonlyn het nie en vier van die stasies het ook nie die telefoon geantwoord nie.

“Dit beteken mense in die Oos-Kaap sal 73% van hierdie polisiestasies nie in die hande kry as hulle in gevaar is of ’n misdaad wil rapporteer nie,” verduidelik Whitfield.

Die Wes-Kaap het die beste gevaar met 23 uit die 30 polisiestasies wat wel hulle fone geantwoord het.

Nege van die polisiestasies wat gebel is, is onder die top 10 lys van die meeste moorde wat daar gerapporteer word. Ses uit dié nege het nie ’n werkende foon gehad of die moeite gedoen om dit te beantwoord nie.

Dieselfde geld vir die polisiestasies waar die meeste verkragtings aangemeld word. Ses van hulle het nie hulle fone geantwoord nie.

“Die Suid-Afrikaanse polisiediens is duidelik self in nood en moet gered word. As beamptes nie eens die foon kan antwoord nie, hoe gaan hulle die misdaad in ons land takel?”

Die jongste misdaadstatistieke wys dat van 1 April tot 30 Junie vanjaar is gemiddeld 70 mense per dag in Suid-Afrika vermoor.

In dié kwartaal is 6 424 moorde aangemeld waarvan 855 van die slagoffers vroue en 243 kinders is. Moord het met 664 gevalle teenoor die vorige kwartaal toegeneem.

“Bheki Cele wys net vir ons oor-en-oor hoe hy eerder voor die kameras poseer en alkohol by die drein sal afgooi, eerders as om die ernstige probleme van die polisiediens reg te stel,” het Whitfield gesê.

 

Leave a Reply