Isaac Cloete
As woordmens is Elize Willems se talente wyd bekend, veral in haar tuisomgewing, die Kamiesberg. Sy is boonop ‘n goeie kunstenaar en kranige naaldwerkster wat help om haar geldtrommel aan te vul.
Dié enkelma is geseënd met vele talente, en het ‘n passie vir haar moedertaal. Haar lewensverhaal is gekleurd: “My kinderjare was nie altyd maklik nie. As oudste van vier kinders – my ma is dood toe ek twaalf was – het dit moeiliker gegaan. My bababroer was slegs twee jaar, en ek moes oombliklik ‘grootwees’ en nuwe verantwoordelikhede aanvaar.”
Die 52-jarige Elize skryf ook vanaf 12-jarige ouderdom, net nadat haar mammie gesterf het. Só het sy toe al haar pyn in Afrikaans verwoord. Hierna het hulle by hul ouma gaan bly, waar sy ervaar het wat die woord “stief” beteken. Haar pa moes as broodwinner noodgedwonge gaan werk .
“Ek was nogtans baie lief vir my grootouers. Omdat my ouma al oud was, moes ek baie van haar take oorneem. Dit was nie ‘n normale jongmenslewe nie.”
Tog is Elize bly en dankbaar dat sy die huishouding help behartig het. Dit het haar as mens laat groei en gestaal vir die latere komplekse grootmenswêreld. Omdat sy nie praatgierig is nie, het sy eerder lewenswyshede uit boeke versamel wat sy gelees het. Haar skoolopleiding was min, maar haar leespassie het hiervoor vergoed.
Dubbele terugslag
Net voor haar mondigwording, het haar ouma en haar pa ‘n paar maande uitmekaar gesterf. Sy het intussen ook getrou met haar eerste “regte kêrel.” Drie spruite is gebore.“Ek het steeds gedigte geskryf, maar my lewensmaat het nie een daarvan gelees nie. Hy het dit as tydmors beskou – ek moes alles los en op my kinders fokus.”
Sy is ná 27 jaar van getroude lewe geskei. Ondanks die seer, het sy dit positief vir groei ingespan. Op ‘n dag pak sy haar kaste reg en ontdek toe al haar ou gedigte wat sy jare gelede geskryf het.
“Een het my verstom – en kon lees dat daar toe al krake in ons mislukte huwelik was. My oudste dogter was toe slegs vier jaar. En ek wis toe weer skryfwerk is nog altyd my uitlaatklep. Dit was terapie – my redding deur moeilike tye in my huwelik.”
Die vrou van Garies se skryfgier was skielik van nuuts af geprikkel. Voortaan sou daar geen keer wees nie. Met die hulp en geloof van John Booyes, ‘n oud-Afrikaanse onderwyser, het sy begin om die ou gedigte oor te skryf en te verbeter. Sy het by diggroepe aangesluit en op sosiale media haar gedigte gedeel. Dit het positiewe reaksie ontlok.
Elize was ook vanjaar die skrywer van die week op die Potpourri- groep van haar uitgewer en haar tweede bundel, Splinter jou Woorde, is binnekort gereed vir publikasie.
‘n Kranige naaldwerkster op die koop toe, staan Elize se hande vir niks verkeerd nie. Sy het al twee kleremaakkursusse voltooi. “Ek is die buurt se naaister en hou daarvan om goed te maak met my hande, want ek is baie kreatief.”
Boodskap van inspirasie
Elize het raad vir mismoedige digters: “Moenie dat jou verlede of jou stukkende drome jou terughou nie. Omring jou met positiewe mense wat jou kan lei. Skryfwerk is ‘n Godgegewe talent, moenie dit begrawe nie. Woeker daarmee, want jy sál die vrugte daarvan pluk.”