Lesufi word dalk premier
Die ANC se voorsitter in Gauteng, Panyaza Lesufi, is een van die kandidate wat as moontlike opvolger vir die Gautengse premier, David Makhura, genoem word.
Makhura sal na verwagting binnekort die pos ontruim, maar ‘n datum is nog nie bekend nie.
Lesufi word allerwee beskou as ‘n vyand van Afrikaanse onderwys.
Polisiestasie beroof
Twee gewapende aanvallers het na bewering twee polisiebeamptes by die Grootvlei-polisiestasie in Mpumalanga aangeval en vuurwapens en ammunisie gesteel.
Die aanvallers het glo drie 9 mm-pistole, ‘n R5-geweer, haelgeweer en sowat 180 rondtes ammunisie uit ‘n kluis gesteel.
Die voorval het tussen Vrydagaand en Saterdag in die vroeë oggendure plaasgevind, het brigadier Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, gesê.
Son skyn weer vir Bokke
Die Springbokke is skielik goed geplaas in die Kampioenereeks na hulle oortuigende oorwinning met 24-8 oor die Wallabies.
Die oorwinning laat Suid-Afrika gelyk met Australië en Argentinië op 9 punte en net een agter die voorlopers, Nieu-Seeland, met twee wedstryde oor. Daardie twee wedstryde is een weg- en een tuiswedstryd teen Argentinië.
Argentinië het egter vanjaar reeds met die Wallabies en die All Blacks afgereken en sal nie so ‘n mak teenstander soos in die verlede wees nie.
KSA doop nuwe T20-reeks
Krieket SA het die naam van sy nuwe T20-liga aangekondig.
Die liga sal die “SA20” genoem word en is geskeduleer om in Januarie 2023 te begin.
Die naam is Woensdag deur Graeme Smith, die kommissaris van die ses-franchise T20-kompetisie, in ‘n virtuele persinligtingsessie bevestig.
Suid-Afrika is desperaat dat hul nuutste poging om ‘n winsgewende T20-liga ‘n sukses sal wees, anders dreig ‘n somber toekoms vir krieket in die land en potensieel groot werksverliese vir spelers en beamptes.
Lesufi as premier sal n ramp wees…