Die Britse minister van buitelandse sake, Liz Truss, is gekies om die Konserwatiewe Party te lei en die nuwe premier te word.
Die wenner van die twee maande lange wedloop tussen Truss en die voormalige minister van finansies, Rishi Sunak, is Maandag aangekondig deur sir Graham Brady, voorsitter van die 1922-komitee van agterbank Tory-LP’s.
Nadat haar verkiesing aangekondig is, het Truss haar voorganger en voormalige baas, Boris Johnson, geprys vir wat hy alles in Brittanje kon regkry.
As die nuwe leier van die regering het Truss belowe om voort te gaan om die verpligtinge na te kom wat die Tories die algemene verkiesing van 2019 laat wen het. Sy het belowe om belasting te verminder, energietekorte te hanteer en die Nasionale Gesondheidsdiens te verbeter.
Johnson het sy bedanking op 7 Julie aangekondig ná ’n reeks hoëprofielskandale en kabinetsbedankings. Reeds op ‘n wankelrige grond oor partytjies wat in Downingstraat gehou is in stryd met Covid-19-beperkings, is die premier se lot verseël nadat dit aan die lig gekom het dat hy ‘n LP aangestel het as sy adjunkhoofsweep wie se rekord van beweerde seksuele wangedrag aan Johnson se kantoor bekend was.
Truss is die derde vrou wat Britse premier geword het ná die politieke reus Margaret Thatcher uit die Koue Oorlog en Johnson se voorganger Theresa May.
Die nuwe premier sal môre amptelik haar amp beklee ná ’n vergadering met koningin Elizabeth II by Balmoral-kasteel in Skotland.
Ongeveer 160 000 lede van die konserwatiewe party het in die finale stadium van die wedloop, wat verlede Vrydag gesluit het, gestem.