Indië het die wêreld se vyfde grootste ekonomie geword nadat hy die VK, sy voormalige koloniale heerser, in die laaste drie maande van 2021 verbygesteek het, het Bloomberg Vrydag berig.
“Op ’n aangepaste grondslag en met die dollarwisselkoers op die laaste dag van die betrokke kwartaal, was die grootte van die Indiese ekonomie in nominale kontantterme in die kwartaal tot Maart $854,7 miljard. Op dieselfde grondslag het die VK s’n $816 miljard beloop,” het die agentskap gesê, met verwysing na syfers van die IMF-databasis en historiese wisselkoerse.
Dis die tweede keer dat Indië beter as die Verenigde Koninkryk presteer in terme van sy ekonomie, nadat hy voorheen Brittanje ook in 2019 verbygesteek het. Die Suid-Asiatiese nasie loop nou nog net agter die VSA, China, Japan en Duitsland op die ranglys van lande met die sterkste ekonomieë. Indië se BBP sal na verwagting vanjaar met meer as 7% groei.
Die verslag kom dae nadat Nieu-Delhi sy BBP-data vir die eerste kwartaal gepubliseer het, wat getoon het dat die Indiese ekonomie op ‘n jaargrondslag met 13,5% gegroei het. Dit was ‘n bietjie laer as wat die Reserwebank van Indië verwag het, maar die groeikoers was steeds die hoogste van enige ontwikkelende land.
Intussen sien Brittanje tans inflasie groei teen die vinnigste pas in vier dekades. Die nasie, wat sukkel met ‘n ernstige lewenskoste-krisis, staar die bedreiging van ‘n resessie in die gesig, wat tot ver in 2024 kan duur, volgens die Bank of England.
Indië gaan boonop vanjaar die VK in dollarterme verbysteek. Die pond het vanjaar met 8% teenoor die Indiese roepee gedaal.