Skip to main content

Die Munisipaliteit van Kamiesberg op Garies is besig met ‘n tweede aanslag teen die Eureka-stigting – en hierdie keer is dit die nedersetting Groendorp aan die Groenriviermond wat sterk in die visier is.

Die munisipaliteit het sowat drie jaar gelede ‘n bitter regstryd teen die inwoners van Eerstedorp, sowat 30 kilometer van Garies, begin om die inwoners te dwing om hul huise af te breek. Soos die naam duidelik wys, is Eerstedorp die oorspronklike van twee dorpe onder die Eureka-vaandel.

Die stadsraad het die inwoners eers in die landdroshof in Garies die stryd aangesê, waar die landdros teen Kamiesberg beslis het.

Daarna het die saak voor twee regters in die Hooggeregshof in Kimberley op appèl gedien. Die regters het bevind die artikel in die bouwet wat handel met sloping van strukture is waarskynlik ongrondwetlik.

“Daardie aansoek is nog hangend. Ek verwag dit sal seker eers volgende jaar aandag kry in die Grondwethof,” sê Walter Niedinger van WNA Prokureurs in Garsfontein wat vir die inwoners optree.

Die stadsraad het hom met die nuwe aanslag teen Groendorp egter regstreeks tot die Hooggeregshof in Kimberley gewend, waar die regter op 30 Junie vanjaar ‘n bevel uitgereik het. Daarin het hy gesê dat die inwoners van Groendorp moet binne 60 dae hul eie huise platstoot of verwyder. As hulle dit nie doen nie, moet die balju die bevel uitvoer.

“Ons gaan dit teenstaan,” beaam Niedinger. “Ons sal teen Dinsdag volgende week hofstukke indien.”

Hy sê hulle is optimisties omdat daar presedente geskep is in die Eureka-saak. “Ek verwag dat ons die saak in die hof gaan moet beveg. Ek verwag nie dat daar toegewings gaan wees nie. As dieselfde artikel in die bouwet moontlik ongrondwetlik is, dan is dit logies dat dit in ‘n ander saak ook ongrondwetlik sal wees.

“Veral in die lig daarvan dat twee regters dit bevind het in die Eureka-saak.”

Die sakeman en diamantmagnaat Louis Liebenberg, wat die twee dorpe se regstryd ondersteun, het sy steun bevestig: “Ek staan by Eureka en Groendorp en ons is nie van plan om die geveg te verloor nie. Ons het reeds aangedui dat ons ook die moeisame pad van dorpstigting sal stap indien die Grondwet nie genoegsaam beskerming bied aan alle kultuurgroepe nie.

“Terwyl ek hierop reageer, ry ek verby plakkers wat reeds etlike jare op die Kaapse Waterfront op sypaadjies en voor die polisiestasie in Durbanville kamp. Ek sou graag Veronica Van Dyk van die DA se kommentaar wou hê waarom haar party dit toelaat, maar haar eie mense op Eureka en Groendorp verjaag.”

Oom Adriaan Nieuwoudt, besturende direkteur van Eureka, beskryf die aanslag as “onmenslik en belaglik”.

“Die saak is ernstig. Dit is ‘n hofbevel – ons kan nie ligtelik hiermee handel nie,” meen Nieuwoudt. “Daar is so 50 huise hier. Die siele tel natuurlik veel meer.

“As ‘n mens na die menslike kant kyk, hoe moet hierdie stomme mense voel?” vra hy. “Hulle het hulle lewensbestaan elders opgegee, juis vir veiligheid. Dit is hier veilig en rustig, maar nou word die mense hier bedreig.

“Nou kom dieselfde owerhede wat hulle elders nie wou beskerm nie, en bedreig hulle nou weer hier. Nou moet hulle in ‘n vlaag van onsekerheid lewe.”

Hy vertel dat hy met sy eie privaatgeld ‘n skool op Groendorp gebou het. “Die eerste huis wat nou afgebreek moet word, is ons skool.

“Dit is onmenslik om die waarheid te sê. Hierdie mense is nie astrant of wetsongehoorsaam nie. Hierdie mense wil die wet respekteer. Ons is nie rassiste nie, ons is vriende met almal.

“Maar hierdie mense moet hul huise beskerm. Dit kan in ‘n verskriklike ding ontaard. Die mense speel met vuur.”

Altus van den Heever van Wessels & Smith Ing, wat vir die Kamiesberg Munisipaliteit optree, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

4 Comments

Leave a Reply