Skip to main content

’n Groep Noorse Tesla-eienaars het ‘n hongerstaking van twee dae georganiseer. Hulle wou so die aandag van die motorvervaardiger Elon Musk trek, aangesien hy glo die enigste een is wat hulle lang lys griewe oor die “groen” motors kan oplos.

Volgens ‘n Tesla webwerf, het Noorweë die meeste Teslas per capita ter wêreld, maar tog kan die maatskappy se kliëntediens blykbaar nie tred hou met die probleme wat aangemeld word nie.

Een van die eienaars het genoem dat sy motoralarm “aanhoudend, vir dae lank” afgaan. Hy was uiteindelik genoop om dit heeltemal te deaktiveer. Nog een moes in die winter van Berlyn na Oslo ry met sy vensters oop, en het gevolglik longontsteking gekry.

Die top vier klagtes wat op die webwerf gelys word, sluit in die motors wat weier om aan te skakel in koue – of warm – weer, deurhandvatsels wat nie in koue weer werk nie, en ‘n “intense piepgeluid” terwyl bestuur word.

Ligte, deure, lugversorgers en die aanboordrekenaars werk ook soms nie behoorlik nie, die motors het ‘n probleem om te laai, en die nuwer modelle het probleme met roes en swak verfkwaliteit.

Nogtans is Noorse Tesla-eienaars toegewyd aan hulle omgewingsvriendelike motors – en aan Musk, wat hulle blykbaar as meer as net ’n uitvoerende hoof beskou.

Dit is steeds onduidelik of Musk, wat Maandag in Oslo vir ‘n energiekonferensie was, kennis geneem het van die optrede. Hy het Woensdag getwiet oor die voordele van “periodieke vas” om gesonder te voel.

Leave a Reply