Sy ‘het nie omkoopgeld gevat’
Lizeka Tonjeni, wat daarvan aangekla word dat sy omkoopgeld van R160 000 van Digital Vibes aanvaar het, het geen finansiële openbaarmakings aan die Munisipale Infrastruktuur-Ondersteuningsagent (MISA) gemaak ten opsigte van die geld wat sy ontvang het nie.
Tonjeni was ‘n werknemer by MISA.
Sy het gister in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria onskuldig gepleit op een aanklag van korrupsie.
Tonjeni het na bewering die omkoopgeld van Digital Vibes aanvaar om die maatskappy se belange te bevorder terwyl sy projekbestuurder was van ’n R3,9 miljoen-kontrak wat in 2018 aan die omstrede maatskappy toegeken is.
SA kry nuwe munte
Suid-Afrikaners kry volgende jaar ‘n nuwe reeks munte.
Die kabinet het aangekondig dat hulle veranderinge aan die munte goedgekeur het, wat sal meebring dat die amptelike tale jaarliks oor die volgende 10 jaar geroteer word.
Die taalveranderinge is deel van die Vierde Desimale Muntreeks wat binnekort bekendgestel sal word.
Dit sal slegs die vierde keer wees sedert die SA Munt in 1961 sy eie munte begin druk het dat dit ‘n nuwe reeks munte bekendstel. Die land gebruik tans die Derde Desimale Muntreeks, wat in 1989 bekendgestel is.
Rabada verloor drie plekke op ranglys
Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada het na die Suid-Afrikaners se loesing in die tweede toets uit die top vyf op die IKR-toetsboulranglys geskuif.
In die jongste IKR-ranglysopdatering het Rabada, wat derde was voor die begin van die tweede toets, drie plekke tot sesde gesak.
Die Engelse naatbouler James Anderson, wat ses paaltjies op sy tuisveld geneem het, het na die topvyf teruggekeer.
Intussen het die snelbouler Anrich Nortje tot 22ste opgeskuif.
Fratsbesering keer Nadal nie
Rafael Nadal het gister ‘n fratsbesering oorkom en tot die Amerikaanse Ope se derde ronde deurgedring nadat hy homself per ongeluk met sy eie raket in die gesig geslaan het.
Die Spanjaard het Italië se Fabio Fognini met 2-6, 6-4, 6-2, 6-1 verslaan, maar eers nadat hy ‘n bisarre besering opgedoen het toe hy met 3-0 voorgeloop het in die vierde stel.
Die viermalige kampioen het seergekry toe sy raket van die baan af teruggewip het terwyl hy gestrek het en hom vol op die neus geslaan het.
Die 36-jarige het sy raket laat val en na die kantlyn gehardloop, waar hy met sy neus bebloed op sy rug gelê het.