Skip to main content

 

Isaac Cloete 

‘n Noord-Kaapse hoërskool kan weer ten volle funksioneer nadat beloofde, tydelike klaskamers ontvang is. Die Hantam Hoërskool op Calvinia moes onlangs sluit weens onstabiele stukture wat die leerders en onderwysers se veiligheid bedreig het.

Dié skool in die Namakwa-streek het eindelik 14 mobiele klaskamers ontvang soos die LUR vir onderwys vroeër vanjaar belowe het. Dinsdag het Zolile Monakali, LUR van onderwys, asook die hoof van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, Moira Marais, die skool weer besoek vir die oorhandiging van die 14 klaskamers. Amptenare van die streekskantoor op Springbok was deel van die opvolgafvaardiging.

Dit volg nadat bekommerde ouers gekla het en die skool sowat twee maande gelede moes toegemaak weens sommige klaskamers wat onstabiel was en ‘n gevaar vir leerders en onderwysers ingehou het. Daar is toe gekla dat die mure en vloere van klaskamers erg vibreer as dit binnegegaan word.

Die leerders is hierna huis toe gestuur en amptenare van die onderwyshoofkantoor in Kimberley en die streekskantoor op Springbok het die ouers toegespreek. Daar is besluit dat slegs die matrikulante, wat toe reeds werk verloor het en met die leerplan agter was, klas sou kry terwyl die saak verder ondersoek is.

Later is ‘n roterende rooster vir grade 10, 11 en 12 gevolg en slegs veilige klaskamers is gebruik.

Die nuwe, tydelike klaskamers sorg dat alle leerders terug is by die skool vir voltydse onderrig. ‘n Kurrikulum, geskoei op ‘n herstelplan, word gevolg sodat skolastiese prestasies nie nadelig beïnvloed word nie.

Die mobiele klaskamers is ‘n tydelike maatreël totdat besluit word hoe om die onstabiele klaskamers, wat met tydelike stutte versterk is, veiliger te maak, volgens Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die LUR.

Monakali het versoek dat die nuwe klaskamers opgepas word. “Neem eienaarskap hiervan sodat diefstal en vandalisme nie gebeur nie.”

Gizella Opperman, DA-LP in Hantam, het baie druk op die department uitgeoefen. “Dis altyd verblydend wanneer departemente beloftes gestand doen in belang van ons kinders. Ek sal dit bly opvolg en my oorsigrol vertolk oor die infrastruktuur wat steeds op stutte staan.

“Dit sal goed wees vir die departement om die ouers en skoolgemeenskap in te lig rakende beplanning, begroting en befondsing van die gedeeltes wat besig is om in mekaar te sak. Die gevaar is nie verby nie. Dis net ‘n tydelike oplossing, maar ‘n langtermynplan is nou nodig.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!