Skip to main content

Corlia Kruger

Drie verkeerspolisielede is gewond in ’n skietery in Akasia, noord van Pretoria, nadat hulle ’n verdagte motor afgetrek het. 
In die vroeë oggendure op Donderdag, 1 September, het vier Tshwane metro-polisielede aan diens die verdagte motor by ’n vulstasie gewaar. Die polisie het die rooi Toyota Corolla met vyf insittendes gevolg tot by ’n verkeerslig in Doreenweg, op pad na Orchards, en die motor van die pad gedwing. 

Drie polisielede het die motor genader en die insittendes beveel om uit te klim. Sonder waarskuwing het die verdagtes op hulle begin losbrand. Die polisielede het terug geskiet en die verdagtes het die hasepad gekies in ’n nabye veld. 

Tydens die skietery is een van die verdagtes in die rug geskiet en drie polisielede is gewond. Drie verdagtes is vasgetrek. Een het weggehardloop, maar is kort daarna ook gevang.

Volgens die Akasia-polisie was die verdagtes vroeër die oggend betrokke by ’n huisroof in Orchards, waar hulle ’n plasma-TV gebuit het. Dié televisie, sowel as ’n pistool, leë magasyn en ’n speelgoedgeweer is in die verdagtes se motor gevind en gekonfiskeer.

Die polisielede wat gewond is, is almal konstabels van wie een in beide bene geskiet is, nog een in die bobeen gewond is, en die ander een het net geringe beserings opgedoen. Die beseerdes is per helikopter na ‘n hospitaal vervoer.

Die polisie bedank distrikdiensbeamptes, stasiespeurders en ander rolspelers betrokke op die toneel. 

Leave a Reply