Skip to main content

George April

‘n Landwye sekuriteitstaking dreig weer, indien maatskappye nie instem nie tot die verhoging van 16.14% of R900 vir drie jaar wat vakbonde eis.

Tans bied sekuriteitsmaatskappye slegs ‘n 5% verhoging vir die volgende drie jaar aan. Die maatskappye en 28 vakbonde is betrokke by die onderhandelings waardeur sowat 500 000 sekuriteitswerkers landwyd geraak word.

Die Waarheid het met twee sekuriteitsbeamptes in Vredenburg gesels, en hulle stem saam dat hulle beter vergoed moet word. “Ná aftrekkings kry die meerderheid van ons ‘n skrale R5000 per maand uit, wat belaglik is. Ons kan nie eers ordentlik vir ons gesinne sorg nie,” het een beampte uitgevaar.

“En in sommige gevalle is ons werk boonop gevaarlik, afhangende van die gebied waarin jy werk,” het hy driftig bygevoeg.

In 2006 het die sekuriteitsbedryf sy laaste landwye staking beleef – 60 mense is daartydens gedood en nagenoeg 150 beamptes aan diens is beseer. Dit was weens binnenshuise intimidasie teen werkers wat geweier het om saam te staak.

“Vir die laaste drie jaar het sekuriteitsbeampte tussen 80c en R1,10c verhoging gekry, wat mos nie regverdig is nie,” het nog manne luidkeels kapsie gemaak.

“Dít terwyl sekuriteitsmaatskappye wagte verhuur teen ‘n enorme bedrag van R12 000 tot R18 000 per maand,” volgens een van die wagte wat anoniem wil bly.

Vandag was die eerste vergadering tussen vakbonde en maatskappye oor die voorgestelde verhogings van sekuriteitsbeamptes. “Indien dit onsuksesvol is, word weer op 12 September vergader. Indien ooreenkomste steeds dan nie bereik kan word nie, sal die landwye staking op 26 September begin.

Uit vrees vir viktimisasie van hul werkgewers, het die manne met wie ons gepraat het, gevra dat hul name nie genoem word nie. Een van die beamptes het selfs sy salarisstrokie vir Die Waarheid gewys, as bewys van wat hy tans maandeliks verdien en huistoe neem.

Leave a Reply

error: Content is protected !!