Skip to main content

 

Russiese reus groet, sy merk bly …

Een van die vorige eeu se groot staatsmanne het gegroet. Mikhail Gorbachev se wye hervormings in die Sowjet-Unie sou ver kring en rimpel steeds voorwaarts elders, dog terugwaarts in sy tuisland. Die man met die kenmerkende kopvlek het ‘n epogmatiese era ingelui wat die moderne samelewing sou omdolwe. Sonnette Lombaard neem die Rus se onuitwisbare reuse-rol op die politieke – en popkultuurverhoog in oënskou.

Vir ‘n skrale ses jaar het Mikhail Gorbachev die internasionale kollig kragtig geannekseer en het sy oopdeurbeleid van perestroika (hervorming) en glasnost (oopheid) die Russe se gevreesde Rooi Deur na binne en buite oopgestoot, wat steeds grensloos uitkring. Ironies dat dié laaste leier van die magtige Sowjet-Unie eergister op 91 ná ‘n lang siekbed dood is, te midde van die aggressiewe dade van sy latere opvolger Vladimir Putin, wat deesdae die nuus om al die verkeerde redes haal. Kameraad Gorbachev was die eens stoere Kommunis wat die tydsgees ryp gelees het en Mikhail die een wat sosiale demokraat geword het. As hervomer het hy met brawe besluite gewaag, wat die wêreldkaart vars verander het.

Om sy kragrol binne konteks te verstaan, kronkel ons met tyd terug na 1991 en een dawerende dag in die buitewyke van die Russiese hoofstad Moskou …

Meer as 1,5 miljoen raserige, opruiende Russe, uitgehonger vir vryheid, het op 28 September 1991 op die Tushino-vliegveld epog afgewag. Helikopters het vanuit die lug die oproerige skare by die “grootste rockkonsert nog” bespied want grondlangs kon lede van die berugte Rooi Weermag haas die miljoene se uitbundigheid inperk. Gevegte tussen die polisie en besete konsertgangers het sporadies uitgebreek, wyl van die Russiese soldate “opgegee”, en kaal bolyf in militêre drag lyfswaaiend saam met hul landgenote deur die metal musiek meegerock is.

En hoor jy die magtige dreuning …

Vier jong takhaarlatte uit Yankland sou aanstons op die reuse-verhoog verskyn om die historiese Monsters of Rock-konsert met woema in te lui, met die ewe-gewilde AC/DC en die Black Crowes wat sou volg. Die heavy metal rockers Metallica het ‘n reuse-aanhang agter die destydse Ystergordyn gehad, wat oordonderend bevestig is toe hulle verskyning pandemonium laat uitbars het. Kyk hier na ‘n video van dié epogmatiese oomblik: https://youtu.be/_W7wqQwa-TU.

Om die konteks hiervan beter te verstaan, moet onthou word dat dié stukkie geskiedenis afgespeel het teen ‘n beduidende nuwe politieke era wat vinnig besig was om te ontvou, een wat die bestaande wêreldorde bedreig het maar ook ongekende, oper weë weerskante van die Ystergordyn sou oopskeur. Dit het terselfdertyd musiek en politiek se interkonneksie onlosmaaklik ge-sement, want waar politici gehuiwer of vasgeval het, was musikante met miljoene meer slaafse en grenslose volgelinge nie skaam nie om kort voor die 21ste eeu se draai die pas warm aan te gee.

Soos die Westerse rockgroepe wat astrant die gaping na die vyand se hoofkwartier-hartland gevat het, terwyl die wêreld saam met die leiers van die twee supermoondhede, Amerika en Rusland, asem opgehou het oor verreikende samesprekinge wat eindelik tot die opbreek van die eens magtige Sowjet-Unie sou lei, asook kernontwapening en die val van die Berlynse Muur waarmee die Koue Oorlog effektief beeïndig is.

Weg met uitgediende ordes!

Sentraal hierin was Gorbachev wat na sewe dekades van geharde Kommunisme besluit het dis tyd om uitgediende en ongewilde jukke in sy moederland af te gooi en met vars oë uitwaarts te loer en met die lang geswore vyand, die Weste, hande te vat. Wyl Gorbachev se waagmoed bestaande fondasies, ook in sy tuisland, geskud het, is fluks agter die skerms gewoel om die eerste opelug rockkonsert in Moeder Rusland te hou. Toe planne met die Rolling Stones, U2, Bob Dylan, Eurythmics en Peter Gabriel vroegtydig geduik het, het die metaalrockers begerig aangemeld.

Dié monster-opruk het gebeur slegs een maand na die mislukte August Putsch, oftewel staatsgreep van geharde Kommuniste om Gorbachev, wat in 1985 leier van die Sowjet-Unie geword het, vroeg in sy spore te stuit. ‘n Stukkie papier “met die Withuis se stempel op”, het die konsertorganiseerders in Moskou die groen lig gegee om voort te gaan en 300 visas vir die rocksterre en hul spanne, insluitend tegnici, is blitsig goedgekeur. Tonne toerusting het uit die VSA gearriveer en soldate van die Yanks se marine korps het slaap versaak en dag en nag gewerk om die reuse-verhoog binne net drie weke betyds gereed te kry. Die Russe het 11 000 magte insluitende soldate, onluspolisie, asook gehuurde veiligheidswagte vir voorsorg ingestuur.

Hoewel die raserige partytjie op en af van die verhoog plek-plek wild wou raak, was die geskatte 1,6 miljoen konsertgangers duidelik meer bedwelmd deur die walms van vryheid in die lug, wat hulle ritmies en gulsig ingedrink het. Die tafel was gedek vir nog epog … Gorbachev kon dapper voortbeur en was in die presidentstoel tot met sy bedanking in 1991 waarmee hy die toe ondenkbare opbreek van die Sowjet-Unie ingelui het.

Van politiek na popkultuur

Die drastiese verkleining van sy reuse-tuisland en verlies aan mag, het nie Gorbachev se geesdrif en aansien laat krimp nie. Die kaalkopman het gewild gebly, ook in die Weste waar hy ‘n tweede lewe as internasionale popkultuurikoon geniet het. Hy was in The Simpsons te sien en het selfs saam met oudpres. Bill Clinton en Sophia Loren ‘n Grammy gewen vir hul hervertelling van die Russiese legende van Pieter en die Wolf.

Dan was daar die advertensies vir bekende Westerse handelsmerke, insluitende Pizza Hut in 1998. Daarin stap hy saam met sy kleindogter oor die Rooiplein na een van diė gewilde ketting-pizzaplekke. In 2007 volg hy aktrise Uma Thurman op as die gesig van Louis Vuitton. In die advertensie, geskiet deur die celeb-fotograaf Annie Leibovitz, besigtig hy vanaf die agterste sitplek van ‘n limousine die oorblyfsels van die Berlynse Muur met natuurlik ‘n duur, bruin leersak langs hom.

Gorbachev se bekende vlek op sy voorkop is ‘n geboortemerk. Dis bekend as ‘n “portwynmerk”, weens die kleur daarvan en te wyte aan ‘n bloedvaat-wanfunksie. Deel van Gorbachev se uitkloppakkie was die vrou met die sagte glimlag aan sy sy. Raisa Gorbachev word wyd geeër vir haar stylvolle evaskap langs haar imposante man en het bygedra tot ‘n tydige, warmer mensbeeld vanuit koue Rusland. In 1993 oorleef sy ‘n beroerte tydens die politieke onrus wat haar wederhelf se baanbrekerbesluite ontketen het, en sterf in 1999 aan leukemie. Hoewel Gorbachev se sjarme maklik bekoor het, was hy ‘n diep denker wat oor geloof gesê het: “I believe in the cosmos. All of us are linked to the cosmos. So nature is my god. To me, nature is sacred. Trees are my temples and forests are my cathedrals. Being at one with nature.”

Sal die vredestak-voorloper opstaan

As argitek van ‘n nuwe wêreldorde, het Gorbachev in 1990 welverdiend die Nobelprys vir Vrede gewen. Sy dood vandeesweek kom ses maande nadat Rusland die Oekraïne binnegeval het, wat wyd gesien word as pres. Putin se uitgesproke begeerte en herbevestiging van ‘n terugkeer na ou, militaristiese Russiese heerskappy en imperialisme. Dit het die durende spanning sedertdien tussen Moskou en die Weste opnuut ontlont.

Dié keer is ‘n vredestak-voorloper soek. Gorbachev is vandeesweek geprys as ‘n “idealis wat geglo het in die krag van idees en die individu”, iets wat ‘n deurmekaar wêreld weer kort – ‘n positiewe planmaker met panache wat menswees verstaan het en wou bind en brûe bou pleks van wegstoot en platvee. Die mensdom mars snel aan, en kan doen met ‘n eietydse heldhervormer met dieselfde soort kalibertrefkrag. In ‘n kitsrakleeftyd-era durf ons nie Mikhail Sergeyevich Gorbachev se voorbeeld vergeet nie.

 

 

 

 

 

2 Comments

Leave a Reply