Skip to main content

 

George April

Die pasafgelope jaarlikse Fynbosfees op Hopefield – die eerste een sedert grendeltyd –het soos gewoonlik honderde mense daagliks deur die toegangshekke laat stroom.

Die Waarheid het gesels met van die besoekers oor hul ervaringe by dié vierdag-fees wat Sondag klaargemaak het. Eers het Henri Bester, ‘n vrywillige feeswerker, oor die dorpie se fees uitgebrei. Hy het in 2019 met die 30ste aanbieding van die fees die media ook hieroor te woord gestaan. Daarna het die Covid-virus feesbyeenkomste wêreldwyd gekelder.

“Hopefield is geleë in die middel van vier biorykstreke – die omgewing het ‘n wye variasie van fynbos-spesies,” het Smit vertel. “Dit is nie net vaal bossies hier nie, soos baie mense verkeerdelik dink. Wat baie nie weet nie: elke plant blom in enige veld; hoe anders sal dit voortbestaan?

“Die vier biome is Renosterveld, Sandveld, Vleilande en Rietveld, en ons het baie navorsing gedoen, daarom weet ons waar elke plant in die veld groei.

“Die Renosterveld is harde grond, wat strek vanaf Malmesbury en Darling in die Swartland. Die grond daar het ‘n baie fyner tekstuur, en is veel vrugbaarder as alle ander streke. Ons oes die beste druiwe daar.

“Die Sandveld se plante is meer sensitief, omdat dit bestaan uit ‘n diep laag fyn sand, wat meestal op kalkagtige ondergrondse gesteentes rus. Dis vanaf die Aurorastreek, waar die plantvoedingstofinhoud laag is met die grondreaksie matiger en soet.

“Die vleilande word weer gevorm deur spoelgronde, wat die vloedvlakte van die laer Bergrivier uitmaak. Die grond bestaan uit swaar klei en is vrugbaar, behalwe waar braktoestande natuurlik voorkom,” het hy verduidelik.

“Die Rietveld se gronde is ook sanderig, maar het ‘n onderliggende kleilaag. Die plantvoedingstofstatus is laag, en dié gronde neig na suur.

“Daar word baie gedoen om die uitstalling interessant en verstaanbaar te maak om vir die besoeker ‘n duidelike prentjie te gee hoe dit in die veld lyk. Die korrekte metode moet gebruik word om plante in die veld uit te haal, en later terug te plaas. Die werkers word opgelei om dit te doen. Wanneer die fees klaar is, moet daardie plante weer teruggeplaas word om natuurlik verder te kan groei,” het Smit passievol gesê.

“Behalwe plante, is hier ook baie bedreigde diertjies in die streek. ‘n Interessante een is die Muskeljaalkat, met sy slanke lyf en kort bene. Hulle is grasieuse klein karnivore met ‘n ligbruin pels met roesbruin, donkerbruin of swart kolle en strepe. Die stert word afgewissel met swart of bruin strepe. Die nagkat is gewoonlik alleenlopend en territoriaal, en gedeeltelik ‘n boomlewende diertjie.”

Feesbesoekers het genoeg afleiding gehad met al die kunstenaars wat opgetree het. Behalwe die uitstalling, was daar ‘n groot verskeidenheid stalletjies, speletjies vir die kinders, en natuurlik die massiewe biertent. Vir die eerste keer is ‘n braaikompetisie gehou en ‘n Hopefield-span het dit trots gewen.

Die Waarheid het besoekers uitgevra wat vir hulle vanjaar uitgestaan het. Al die pad van Henneman in die Vrystaat, was Nadine Havenga en haar dogter en ma. Dit was ‘n eerste besoek as deel van ‘n Weskus-uitstappie.

“Die uitstalling staan beslis uit, en die mense wat hier stories vertel, is fantasties. Hulle ken hul natuuromgewing, en elke plant of diertjie,” het Nadine gesê. “Die spesiaalste is dat jy jou honde kan saambring. Dis pragtig om te sien hoe mense met hul troeteldiere rondloop, iets wat jy nie by ander feeste kry nie.”

Nog eersteling-besoekers was Shaun en Marlize Wolmarans van Durbanville. Hulle is deur skoonma Maritza Zietsman in St Helenabaai aangemoedig om die fees te besoek. Shaun se versoek aan die feesorganiseerders is vir ‘n gesondheidskosstalletjie volgende keer.

Hoewel dit nie vir Lizelle Cleophas van Hopefield ‘n eerste feesbesoek was nie, was dit ‘n eerste ná  20 jaar, omdat sy deesdae in Pretoria woon. Vir manlief Zane was dit egter ‘n eerste een, Hulle sou die fees meer inklusief wou hê, maar stem dat die atmosfeer en rustigheid ‘n wenner is.

 

Leave a Reply